Wat irriteer jou?

Wat irriteer jou?
Geskryf deur Sonnika Nel

Wat irriteer jou die meeste?  Hierdie tyd van die jaar is dit dalk meer as een ding!

Ons buurman se “leaf blower” is my nommer een irritasie. Behoede die arme blaar wat durf om 6uur op ‘n Saterdagoggend uit sy plek te wees!  Die buurman se nuwe hond wat vir elke teken van lewe blaf en blaf en blaf, is in die tweede plek. (My buurman blyk salig onbewus te wees van sy raserige bestaan in my lewe.) In ‘n stewige derde plek, is die persoon wat teen 40km/h voor my in Catherinestraat ry in die oggend oppad werk toe.  Die pad is natuurlik te nou en kronkelrig om hom verby te steek en teen die tyd dat ek dáár ry, is ek rééds tien minute laat vir werk!

Ek vermoed jy het soortgelyke irritasies.  Sommige heeltemal irrasioneel en selfs ‘n bietjie selfsugtig of kinderagtig, maar nietemin intens genoeg dat jou gewone sagmoedigheid in drie sekondes kan plekmaak vir ‘n draak wat vuur spoeg!

Hoe moeër ons is of hoe meer stres ons ervaar, hoe erger is ons irritasies. Die mense om ons ontgeld dit dan dikwels. Jou kind kry ‘n afjak, jou man kry ‘n skewe kyk en die arme hond moet net koes!
Alhoewel irritasies meeste van die tyd oor onbenullighede is, is die rede daaragter nié. Vra jouself gerus wat onder daardie irritasie skuil. Opgekropte woede? ‘n Gevoel van magteloosheid? ‘n Frustrasie met jouself?

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” – Spreuke 4:23

Jy moet soms lank genoeg stilsit en na jou eie hart luister. Fokus op die emosies wat daar broei, die onafgehandelde seer en kwaad wat daar nesskrop. Daar leef dikwels leuens in jou hart oor jouself en oor ander: Jy is nie goed genoeg nie! Jy kry nooit iets reg nie! Almal is teen jou!
Geen wonder ons is so maklik geïrriteerd nie, want daar is te veel stemme en emosies wat raas in ons harte.  Ons verdraagsaamheid word opgebruik en ons borrel oor wanneer die geringste dingetjie ons lewe bemoeilik.

Die grootste teenvoeter vir irritasie is GEDULD.  Geduld beteken nie net om te kan wag of te kan stilbly of iets te verdra nie, maar verwys na ons GESINDHEID terwyl ons wag, stilbly of verdra. Gesindheid is ‘n ander woord vir dít wat in jou hart omgaan.

Dis ‘n doelbewusde besluit om ‘n gesonde gesindheid te ontwikkel. Jy moet doelbewus kies om te vergewe, om lief te hê en om die positiewe raak te sien. Nie net wanneer alles goed gaan en reg uitwerk nie, maar juis op die dae wat jou kinders nie hul kant bring, jou baas onbillik optree of jy jou motorsleutels verloor het!

Mag die klein en die groot irritasies by jou verbyhou hierdie week.
Mag jy hierdie week die geleentheid kry om vir ‘n paar minute jou hart te ondersoek.

Mag dít wat in jou hart omgaan hierdie week, jóú lewe en die mense om jou sin op ‘n besonderse wyse bepaal.

En mag my buurman hierdie skryfstuk raaklees en homself en sy geraas herken!