Sing, sing, sing

Sing, sing, sing!
Geskryf deur Karin Steyn

Hoe gemaklik sing jy? Verlang jy na jou koordae of moet jy eerder aanhou om in die stort te sing waar net jy dit geniet?  Sonder musiek is die lewe eentonig.

Die Ou Testament is propvol versies wat die leser aanmoedig om te sing. Net in die Psalms alleen is daar 68 verwysings na sang tot eer van die Here. Dit gaan gewoonlik gepaard met vrolikheid en ‘n gejubel, soos byvoorbeeld Psalm 33:3
Sing vir Hom ‘n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit!

En ook Psalm 100:2  
Dien die Here met blydskap, kom voor sy aangesig met gejubel!

En natuurlik Psalm 95:1 – 2
Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, juig tot lof van die rots van ons redding! Laat ons voor Hom kom met lofgesange, Hom toejuig met Psalms!

Ons lees ook van Miriam wat al singende die volk begelei het na die deurtog deur die Rietsee (Eks 15). En van die rigter Debora wat ‘n lied geskryf en gesing het na sy die volk tot ‘n oorwinning oor Jabin en Sisera, die belangrike koning van Hasor in Kanaän, gelei het (Rigt 5). Daarom is die twee vroue se liedere is opgeneem in die Bybel.

Ons sing want dis mooi. En lekker. En leersaam. Dit laat ons ook naby aan God voel. In Bybelse-tye was daar nie Spotify, tapes, CD’s of iPods gewees nie. Daar was ook nie toegang tot Bybels vir gewone mense nie. Maar een ding is seker – die jong kerk het gesing in katakombes, katedrale en kerke. Die geskiedenis van die kerk is ook die geskiedenis van mense wat sing.

In die Middeleeue het dit egter vir ‘n ruk verander – kerke het toe net kerkkore gehad wat gesing het, terwyl die lidmate maar net gesit en luister het. Die Reformasie het dit egter verander – mense soos Martin Luther het baie sterk gevoel dat almal moet sing en Johannes Calvyn het bygevoeg – veral kinders moet sing!

Om die tekste te onthou en om hulle liefde aan God uit te druk deur hul stemme.
Om dankie te sê en om mekaar te leer.  
Om hulself te verenig en om mekaar te bemoedig .
Vir hulle was sang meer as net woorde – dit was om te bid met jou hele liggaam:  melodie, harmonie en ritme.

As ek terugdink aan tye en plekke waar ek die Here se teenwoordigheid op besondere maniere ervaar het, het dit ook talle kere met musiek en sang te make gehad. Sang is deel van ons geestelike toerusting. Dit is die manier waarop ons sorg dat die Woord van God diep in ons insak. Het julle geweet die Protestantse Sangbundel – waar ons psalms en gesange vandaan kom – is hierdie jaar (2024) 500 jaar oud?

Om te sing is menslik. Om saam met ander te sing, het ek geleer is hemels. Wie het nog nie heimlik ‘n traan weggevee terwyl ons die Volkslied uit volle bors by ‘n rugby-finaal saamsing nie? Klomp stemme word een stem en ‘n simfonie van menslike klanke verenig mense van alle rasse en kulture.  Musiek omseil ons verstandelike filters en maak passie in ons harte wakker.

Hierdie Sondag het ons as Gemeente so wonderlike geleentheid. Om na ‘n besige jaar waarin daar baie gebeur het, waaroor ons glimlag en ook baie waarvoor ons nog woorde soek, te kan sing.

Sáám te kan sing. Want van een ding is ons steeds seker hier aan die einde van 2024 – God is by ons!

Mag ons harte saam 2024 uitsing: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.