Bekommernis

geskryf deur Dr Karin Steyn
Fil 4 : 7 sê: "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus"

Januarie is amper verby! Vir van ons het dit gevoel of Januarie 3 maande lank was…het jy al iewers in die maand benoudheid of bekommernis ervaar? Daardie oomblikke wanneer mens voel jy het géén beheer nie, jou kop is moeg planne gemaak, jy sien geen uitkoms nie en die maagsweer groei. Die mens het ‘n ongelooflike vermoë om na te dink oor toekomstige gebeure. Wanneer ons bekommerd is, voel dit soos ‘n ketting van gedagtes en beelde, wat in toenemend katastrofiese rigtings vorder.

Kom ons doen gou 'n toets - antwoord eerlik.
Is jy hier aan die einde van Januarie tevrede met:
Jouself?
Jou werksituasie?
Jou verhouding met jou vrou of jou man?
Jou finansies?
Jou kinders se aanpassings en aktiwiteite?
Jou toekomsplanne vir 2025?

Ek vra hierdie lysie hier bo omdat ek glo baie keer is die kommer en stres in ons lewens as gevolg van ontevredenheid en onvergenoegdheid. Dis nodig dat ons as gelowiges daardie onvergenoegdheid in ons lewens moet raaksien. Ten diepste wys ons vrese ons harte. Dit wys ons broosheid in hoe ons dink oor geluk.

Ander kere kom ons bekommernis uit ‘n golf wat oor ons lewens gespoel het, waaroor ons geen beheer het nie en die implikasies is diep. In die oomblikke van ons lewens dink ek is daar min mense wat regtig die krag het om net onvoorwaardelik te aanvaar en alles oor te laat. Dit is vir my gerusstellend om in hierdie tye te onthou dat selfs Jesus,  doodsbenoud, beangs en bedroef was (Luk 22:44).

Die mooiste beskrywing wat ek ooit gehoor het van die woord bekommer, is die woorde van Cowman "Worry is like a rocking chair; it gives you something to do, but it doesn't bring you anywhere."

Wat my en jou laat wakker lê het ‘n geestelike, emosionele en selfs ‘n fisiese impak op ons lewens. (Spr 17:22). Jesus kom nooi jou uit om alles op Sy skouers te kom neersit.

Mag ons die jaar wat voorlê nie vasgevang leef in ons bekommernisse, maar diep bewus wees dat Jesus genoeg genade, vir elke dag vir ons gee.


Vrede,
Ds. Karin