Om saam te aanbid

geskryf deur Sonnika Nel
Vir sommiges is geloof ‘n baie persoonlike saak.  ‘n Verhouding tussen jou en God wat jy bêre vir jou binnekamer. Daar is ‘n groep mense wat ook vir jou sal sê dat hulle’n betekenisvolle verhouding het met God, maar dat georganiseerde godsdiens, oftewel kerkbywoning, nie vir hulle deel vorm van hierdie verhouding nie.  Om kerk by te woon is nie vir hulle prioriteit of voorvereiste vir ‘n verhouding met God nie. Dit spruit ongelukkig soms uit ‘n diep teleurstelling of seerkry binne die kerklike sisteem.

Ek glo natuurlik dat almal se verhouding met God anders kan lyk en dat diegene wat kies om hulle geloof uit te leef sonder om die kerk daarby in te sluit, se geloofslewe ook gesond en mooi kan wees.  

Maar ek kan nie help om te wonder of hulle weet waarop hulle uitmis nie!  Ek dink nie hulle weet wat ons weet nie.

Gemeenskap van gelowiges (community), kom in verskillende vorms voor.  
Sondae ervaar ek hierdie gemeenskap binne ons Tygerpoort-kerk-familie wanneer ek ou bekendes sien en nuwe vreemdelinge ontmoet.  Ek sien tieners wat ek as kleuters leer ken het en wat nou al belydenis van geloof aflê en tien jaar gelede se belydenisklas wat nou hul eie baba’s kom doop! Elke jaar verander en verskil die gemeente se projekte en jaarprogram, maar die ritmes bly dieselfde: die kerkklok wat lui, die orrel wat speel, die opbou na die fees, die liggies by die kerssangdiens, die doop-Sondae en die vleispasteitjies na kerk. Dit alles laat my deel voel van my geloofsfamilie.

Vrydagaand het ek die gemeenskap van gelowiges op ‘n totaal ander wyse ervaar.  Tussen 30 000 ander gelowiges by Loftus Rugby Stadion tydens die Passion Konferensie. Mense van elke provinsie in die land, selfs van Botswana en Mosambiek.  Dit was ‘n hoendervleis ervaring tussen vreemdelinge wat gesamentlik lief is vir die Here. Dit laat my deel voel van die groter geloofsfamilie in ons land.

Ander kere ervaar ek dit op ‘n baie kleiner skaal wanneer ek saam met ‘n vriendin oor die foon bid wat iewers ver of in ‘n ander land is. Dit laat my besef dat my geloofsfamilie nie gebonde is aan grense of afstand nie.

Ek dink nie ons besef altyd hoe ongelooflik bevoorreg ons is om daagliks op ‘n openlike en spontane wyse met ander gelowiges te kan omgaan nie. Ek dink ons neem dit vanselfsprekend.  Ek weet wel ons het mekaar nodig. Iemand om saam met jou te bid.  Iemand met wie jy jou dankbaarheid kan deel.  Iemand wat jou kan help dra wanneer jou geloof wankel.

Daar is niks fout wanneer jou geloof net tussen jou en God is nie, maar ek wil jou tog uitnooi om Hom op nuwe maniere te ervaar binne ‘n gemeenskap van gelowiges.  

God práát met ons deur hierdie gemeenskap.  
God sórg vir ons deur middel van hierdie gemeenskap.
Jy kan ook vir God opnuut ontmóét deur hierdie gemeenskap.  

Ek hoop ek sien jou Sondag by die kerk!

Liefdegroete,