Is Jesus genoeg?

geskryf deur Ds Marco Koch
Ek doen ‘n soektog op die internet:
“How many self-help books are there about living the good life?”
Ek het gedink dit sal baie wees, maar ek is sommer geskok toe ek sien dat daar letterlik duisende is. Boonop word daar elke jaar byna 3 500 addisionele self-help boeke gepubliseer. Natuurlik is daar waardevolle gidse. Met goeie navorsing en briljante skrywers is daar baie bronne wat ons kan help ons ons lewens te verryk. ‘n Vraag wat egter in my gemoed kom sit is; “is Jesus nie genoeg nie?”

Tot in die 1600’s het mense geglo dat bome en plante hul massa alleenlik uit die grond kry. In daardie tyd doen die wetenskaplike, Jan Baptist van Helmont, ‘n eksperiment wat vir altyd die mensdom se verstaan van plante sou skuif. Hy het ’n jonk wilgerboompie versigtig geweeg. Daarna het hy dit in ’n pot met droë grond geplant. Hy het die grond ook geweeg om seker te maak daar is geen verandering in die grond se massa nie. Vir vyf jaar het hy slegs reënwater of gedistilleerde water vir die boom gegee – geen ekstra voedingstowwe of kunsmis nie. Na vyf jaar het hy die boom weer geweeg: dit het met 74 kilogram gegroei! Maar toe hy die grond weeg, het hy gesien dat dit byna dieselfde gewig gebly het. Hierdie eksperiment was die eerste tree vir ons om te weet wat ons vandag weet, dat plante koolstofdioksied uit die lug gebruik om te groei.

Plante kry letterlik hul substansie vir groei van bo, nie van onder. Van waar kry jy jou substansie vir jou groei as mens?

In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons oor Jesus:
...(Ek glo) in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die
regterhand van God...

Het jy al ooit daaraan gedink dat hierdie geloofsbelydenis praat oor Jesus se geboorte en dan spring dit egter na sy afsterwe en opstanding. Dit sê niks oor Jesus se lewe nie. Waarom die leemte? Is dit ‘n fout? Nee. Ek dink dit is ‘n uitnodiging om juis nader na Jesus se lewe te kyk:

-Om Sy weg te soek,
-om tyd saam met Hom te spandeer,
-om te leef soos Hy geleef het,
-om te doen wat Hy gedoen het en
-om jou substansie van bó te kry.
Dit is ‘n ander tipe soektog:
“How can Jesus provide the way for me to participate in the good life?”

Vrede.