Eetkamertafels

geskryf deur Dr Karin Steyn
Daar is iets spesiaal aan ‘n eetkamertafel. Dit is die eerste ding wat ek oplet as ek in ‘n huis instap. Die eerste plek in ons huis wat ek wil mooimaak vir feesgeleenthede. Of dit nou van growwe denne, graniet of slanke glas en chroom gemaak is, 'n tafel kan die hart van 'n huis word. As ek kyk na die merkies op ons tafel onthou ek die lekker lag van sekere aande en die stille gemompel van ernstige gesprekke.

Toe ek ‘n klein dogtertjie was het ons elke Vrydagaand by my oupa en ouma gaan eet. Hulle het so lang eetkamertafel gehad waarby die hele familie aangesit het. Kombuisstoele en klein stoeltjies was tot vir die kinders nader gestoot sodat ons almal om die een groot tafel kon sit. Om dié tafel was heerlike kos bedien: skaapboud, patats, gebakte aartappels, perskes en vla. Tot vandag toe herinner sekere lekker kosreuke my steeds aan daardie lekker Vrydagaandkuiers. Die geur van saamwees.

Natuurlik gaan dit nie regtig oor 'n fisiese tafel nie, maar wat die tyd rondom 'n tafel verteenwoordig. Want die mens is bedraad vir stories. Ons word ons stories. Want ons leef ons lewensverhaal daagliks. Families en vriendekringe word gedefinieer deur die stories wat hulle leef, deur die verhale wat hulle oor en oor vertel en onthou aan tafel. Dit is ook die plek waar kinders die kans kry om te luister na die grootmensgesprekke.

Dis ook op óns tafel waar ek heel eerste kan raaksien as dinge bietjie dol gaan in die Steyn- huis. Wanneer die hopies al groter word en die skoolprojekte oral rondlê. Wanneer ons in die besig, verby mekaar leef. Te min sinvolle gesprekke voer en konneksie verloor.

Jesus het baie om tafels gekuier. Hy het van sy grootste gesprekke om tafels gevoer. Mense het sekerheid oor sy liefde aan etenstafels ervaar.

So ek wonder sommer vandag, aan watter tafels sit jy? By die werk, in jou huis? Waar kuier jy graag om ‘n tafel? Nooi jy nog mense na jóú tafel toe?

Mag die waarde van diep konneksies en verhoudings vir jou belangrik bly. Ek glo dis waar ons Jesus raak-leef. Hy kom sit rondom ons tafels.

Hier is ‘n lekker speletjie vir om die tafel met kinders in die huis:
 
 ‘Slangetjies en Leertjies’ aan die etenstafel. Elke keer as jy deur ‘n slang ingesluk word noem jy iets sleg wat met jou gebeur het. Elke keer as jy op die leertjie land en boontoe klim, noem jy iets positief of lekker van jou dag. Deur hierdie oefening leer die kinders of gesin om God in hulle elke dag raak te sien en lekker daaroor te gesels aan die tafel.

Seën vir julle!
Ds. Karin