Saam na Lewe
geskryf deur Ds Marco Koch
‘n Paar jaar gelede het Wouter vir Pastoor Odo Ratshivhombela van Assemblies of God genooi om met die tieners te gesels. Odo het ‘n pragtige metafoor gebruik om die werk van die Heilige Gees in ons te beskryf. Hy’t gesê: “Elkeen van ons is soos ‘n handskoen. Ons beteken nie veel as die handskoen eenkant lê nie...” Toe trek hy ‘n handskoen aan en verduidelik “...maar as die Gees in jou kom, dan kan jy God se werk doen!”
Tydens hierdie jaar se Pinkster het hierdie handskoen-metafoor vir my weer nuwe betekenis gekry. Soos ons hierdie afgelope paar aande by prof. Willem Fourie gehoor het, is die oudste Christelike belydenis oor die Heilige Gees dat die Gees ‘Here is wat lewend maak’. Dit is wat ons in die Geloofsbelydenis van Nicéa, wat ‘n paar honderd jaar na Jesus se opstanding geskryf is, lees. Die belydenis van Nicéa is hierdie jaar presies 1700 jaar oud. Hierdie geloofsbelydenis en beskrywing van die Heilige Gees het oor die eeue heen groot invloed op die breeër kerk. Soveel só dat ons die kern daarvan in hedendaagse belydenisse en beleide sien.
Op 5 September 2012 vind daar ‘n geskiedkundige gebeurtenis in Kreta, Griekeland plaas. ‘n Verklaring: “Saam na Lewe: Missionaliteit en Evangelisasie in veranderende landskappe” word eenparig as amptelike sending-verklaring van die Wêreldraad van Kerke goedgekeur. Die Wêreldraad van Kerke verteenwoordig nagenoeg 500 miljoen Christene van 352 kerktradisies uit 120 lande.
Dit is ‘n ryk dokument wat ons as Christene as rigtingwyser behoort te gebruik. Die boodskap is eenvoudig. Ons bely: “Ons glo in God, die Heilige Gees, die Lewegewer, wat lewe onderhou en bemagtig en die hele skepping vernuwe (Gen. 2: 7; Johannes 3: 8).” Ons roeping is dan om te onderskei waar die Gees besig is om lewe te bring en dan daarby aan te sluit. Dit is hoe ons (jy ook) sáám met die Gees lewe bring.
Hier is ‘n paar kerngedagtes vanuit Saam na Lewe oor hoe jy as handskoen die Gees deur jou kan laat leef:
- God is reeds oral teenwoordig (Hand. 17:23–28). Dit roep ons om te getuig van God se teenwoordigheid eerder as om Hom “te bring”.
- Die aarde en alles daarin behoort aan die Here (Ps. 24:1). Dit roep ons om onsself aan God se sending te verbind met nederigheid en hoop.
- God se liefde sluit die hele skepping in, nie net die mens nie. Dit roep ons om as rentmeesters van die natuur op te tree.
- Sending begin met God se skeppingsdaad en gaan voort in herskepping. God skep ‘n nuwe hemel en nuwe aarde (Jes. 65:17). Dit roep ons om te getuig met woord en daad van God se liefde.
- Die fees van die koninkryk van God is ’n beeld van die lewe in oorvloed (Luk. 14:15). Dit roep ons om die fees van die lewe voor te berei as viering van skepping en versoening.
- God is Drie-enig en het ons die opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig (Mat 28:18–20, Mar 16:15–16, Luk 24:46–49, Joh 20:21 & Han 1:8). Dit roep ons om mense na die fees van die lewe te nooi.
- Die Heilige Gees is die lewegewende krag, uitgestort met Pinkster. Dit roep ons om die Gees te onderskei waar lewe en bevryding plaasvind.
- Die Gees van waarheid lei ons in alle waarheid. Dit roep ons om magte van dood en onderdrukking te konfronteer.
- Kerk is die volk van God, liggaam van Christus, tempel van die Gees. Dit roep ons om die “water van die lewe” met ander te deel.
- Evangelie is vir alle mense, nie net een kultuur nie. Dit roep ons om eenheid tussen alle mense te bevorder en om om te gee vir alle mense wat ly.
- Jesus het gekom “sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed” (Joh. 10:10). Die doel van God se sending is volheid van lewe. Dit roep ons om mededeelsaam te leef.
As slotgedagte herinner ek jou aan prof. Willem se woorde: “Die werk van die Heilige Gees kan baie kompleks raak. Ons kan gerus na die eenvoud van Paulus se opdrag aan die Galasiërs luister. Uiteindelik gaan dit basies oor die vraag: Maak jy die vrugte van die Gees sigbaar daar waar jy skool, leef, werk en kerk?”
Galasiërs 5:22-25
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
“Saam na Lewe” is te koop op die volgende skakel: https://shop.clf.co.za/product/saam-na-lewe/
‘n Engelse weergawe “Together Towards Life” is verniet beskikbaar op PDF. Klik hier om dit af te laai: https://www.oikoumene.org/sites/default/files/Document/Together_towards_Life.pdf
Vrede.