Iets groter as jyself
geskryf deur Sonnika Nel
Ek het die afgelope naweek die geleentheid gehad om deel te wees van ‘n koor projek waar 700 koorlede vir vier dae bymekaar kom om te oefen en dan drie koor-uitvoerings vir die publiek hou. Daar is lang ure, seer bene, hees stemme en laat aande, maar dis ongelooflik lekker! Nie net omdat ek vir vier dae lank iets kon doen waarvoor ek baie lief is nie, maar omdat ek deel kon wees van iets soveel groter as myself.
Vir vier dae is ek oorweldig deur die God-gegewe talent van die begeleiers en musikante. Ek kon vir vier dae saam met vreemdelinge wat ek van geen kant af ken nie dieselfde note sing om die mooiste musiek te maak. Sommige van hierdie vreemdelinge het al vriende geword. Meeste van die 700 koorlede is nie professionele musikante nie en het “gewone” werke met “gewone” lewens. Maar twee maal ‘n jaar kom hierdie groep mense byeen om deel te wees van iets wat niks op jou CV beteken nie, geen materiële gewin bied nie en niks verander aan jou vervelige “to-do”-lysie wat wag by die huis of kantoor nie.
Vir party mense is dit koor. Vir ander is dit om maande lank te oefen in hitte, koue en reën om een dag van die jaar saam met 20 000 ander drawwers aan die Comrades Marathon deel te neem. Hulle weet dit gaan verskriklik moeilik wees, hulle gaan baie seer hê en moontlik nie die wedren voltooi nie. Meeste van hulle is ook “gewone” mense met “gewone” werke wat nie professioneel deelneem nie. Diegene wat deelneem vertel van die kameraderie onder mekaar wat almal deel is van iets groter as hulself.
‘n Ander groep mense het dieselfde die naweek beleef by Loftus. En selfs diegene wat nie stoere Blou Bul ondersteuners is nie, sal die komende naweek bankvas agter hulle staan. Deel wees van iets groter, al is dit onbelangrik in die gewone roetine van jou week.
Ons is geneig om al hoe meer na binne te leef. Ons isoleer onsself van mense en raak daardeur vasgevang in ons eie skedules en agendas. Dit het soms tot gevolg dat ons oorbewus raak van ons eie tekortkominge en uitdagings, want ons verleer om verder te kyk as wat reg voor ons is.
Die kerk is ook ‘n plek waar ons deel is van iets groter as onsself. Die kerk is ‘n plek waar “gewone” mense langs mekaar kan sit, aanbid, kuier en leer. Die afgelope Pinkster-Sondag het nie net Tygerpoort se lidmate saam nagmaal gebruik nie, maar Christene wêreldwyd omdat ons deel het aan Iemand groter as ons. Jy kan jou geloof op jou eie uitleef en steeds ‘n verhouding hê met God, maar daar is iets wat jy net binne ‘n gemeenskap van gelowiges kan kry: ‘n diep gevoel van behoort, ‘n bewustheid van God se werk nie net in jou lewe nie, maar ook in die van ander. En die besef dat jy nie op jou eie God se koninkryk hoef te bou nie, maar wel as deel van ‘n groter liggaam.
Ek hoop jy het die geleentheid om iewers deel te wees van iets wat groter is as jyself, sodat jy nie vasgevang word in jouself nie. Ek hoop jy ervaar iewers die vreugde van ‘n gedeelde doelwit met ander mense. En ek hoop jy omring jouself met ‘n gemeenskap van gelowiges om jou te herinner aan God se onvoorwaardelike liefde vir jou en dat jy deel is van iets groter.