Bybelse Safari
geskryf deur Ds Marco Koch
Hebreërs 5:13-14
Elkeen wat nog net melk gebruik, is onkundig oor die woord van geregtigheid, want hy is nog ‘n kind. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir dié wat deur oefening daarin geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.
In die vakansietyd het ek tyd gehad om vir my ouers in Middelburg te gaan kuier. Een oggend stel my ma voor dat ons ‘n ent ry om ontbyt te gaan eet. Die restaurant is vir ons seuntjies ‘n geheim. Vir ons ook. Ons besef die erns van die uitstappie toe ons op die snelweg klim op pad Dullstroom se kant toe. In my binneste dink ek dit is darem bietjie vêr se ry vir ontbyt, maar ons is met vakansie so wie is ek om te kla. My pa neem die afrit by ALZU se petrolstasie. Ek neem aan ons gaan die kar vol brandstof maak. Toe ons egter parkeer, besef ek ALZU is nie net ‘n vinnige stop op ons pad nie. Dit is dié stop.
Ry mense regtig van Middelburg af ALZU toe net vir die trip? Nooit sou ek dink mense doen dit nie, maar skielik is ons daai mense. Ek dink my ma ken my kinders (en my vrou) beter as ek. Hulle vrek oor die klomp diere langs die watergat. Die renosters se kleintjie rol in die stof. Die een gemsbok het slegs een horing en word ‘n ‘unicorn’ gedoop. Die volstruise dans. Die elande kom grasieus vanuit die verte nader gestap. Selfs die swartwitpense bederf ons met hulle verskyning. WOW!
ALZU is perfek ingerig vir busse vol toeriste op pad na die Kruger Wildtuin. ‘n Duitse delegasie daag doelgerig daar op. Die selfone is dadelik uit en verskeie weergawes van dieselfde diere word in fone se galerye gestoor en oor die wêreld heen gestuur.
My pa vra vir my: “Vermoed jy hulle dink dít is hoe die wildtuin ook lyk?”
Hoe ironies? Jy’s op pad na die gesogte Kruger om met baie moeite die bekende Afrika diere te soek. En hier sien jy van die heel bekendstes, sommer ‘n spul bymekaar, terwyl jy eintlik nog op pad is na jou bestemming.
Dit het my laat wonder... Is dit nie maar ook hoe sekere mense oor geloof en die Bybel ook dink nie? Jy vat maar kortpad, lees die daaglikse vers van die YouVersion Bybel App en siedaar, daar is my boodskappie vir die dag. Ek het my dosis vir die dag in, nou kan ek maar terugkeer na my huis en met die regte lewe begin. Ek het by ALZU gestop en diere gesien so ek kan maar huis toe gaan.
Nee. Die ware Jakob van Bybellees en ons geloofslewe is ‘n reis. Dit is ‘n soeke. Om met God se Woord (persoon en Bybel) te leef is ‘n pelgrimstog van stilword in die teenwoordigheid van die Here. Dit is waarneming met al jou sintuie vir dít waarmee die Here jou wil ontmoet. Dit is ‘n nuuskierigheid en verwagting van God se wil wat enige plek op jou pad vir jou gaan verras.
Ja. Volwasse geloof is meer soos ‘n reis in die Wildtuin as ‘n vinnige stop by ALZU. Met die metafoor van geloof en die wildtuin dink ek ons het ‘n paar lesse te leer vir hoe ons ons geloof beoefen:
Moenie tevrede wees met kits-Bybel-boodskappies nie. Die Wildtuin is meer as ‘n vinnige stop by ALZU. Moenie tevrede wees met ‘n lewe waarin jy maar eintlik op jou eie insigte staatmaak nie, dit is maar melk vir die gees. Doen die moeite, spandeer die tyd. Wees oop vir God om jou te ontmoet. Op enige tyd. Op enige plek. Op God se terme. Mag jy aan die vaste kos smul, mag jou volwasse gees met God se teenwoordigheid gevul word.
Vrede.
Ds. Marco Koch

- Dit vat soms ‘n rukkie vir jou oë om aan te pas. Jou wildkyk oë moet eers ingestel word. Net so is Jesus nie net die lig wát ons sien nie, Jesus is die lig waarméé ons sien.
- Hoe langer jy in die wildtuin ry, hoe beter is die kans dat jy diere gaan sien. Dit help egter nou nie jy slaap agter in die kar nie. Indien jy leef met ‘n afwagting dat die Here jou op enige plek kan ontmoet, gaan jy nie die brandende bosse lang jou pad misloop nie.
- Die soeke verg soms, nee meestal, baie deursettingsvermoë en geduld.
- Hoe meer jy diere soek, hoe beter raak jy daarmee om diere te sien. Soos ‘n man wat nie die Mayonnaise in die yskas kan vind nie, maar langs ‘n digte bos stop en dan sê: “Kyk, daar staan ‘n Kudu!”
- Jy kan soms ure ry en niks sien nie. Dit beteken nie noodwendig dat daar fout is met jou oë nie. Jy doen wat jy kan, maar wát en wáár jy iets sien, is buite jou beheer.
- As jy klomp karre bymekaar sien staan, is dit wys om daarheen te ry. Sáám is die kans groter om diere te sien, as op jou eie. Geloofsgroei gebeur hoofsaaklik binne gemeenskap met ander gelowiges.
- Moenie net soek vir die groot 5 nie. Wees ontvanklik wat die wildtuin vir jóú wil wys. Dalk kom die spesiale oomblik waar ‘n pantser-akkedis ‘n stuk van ‘n vrug eet of ‘n ietermago wat in die pad stap. Dalk beleef jy nie die Here in deurbrake of wonderwerke in jou werk nie. Dalk ervaar jy die Here in die glimlag van ‘n kind of langs ‘n vriend se sterfbed.
- Hou altyd jou kamera gereed, sodat jy elke spesiale oomblik kan vasvang. Skryf jou ervarings van God in ‘n joernaal neer. Gaan gereeld terug na daardie herinneringe.