Aangename kennis, wie is JY?
geskryf deur Sonnika Nel
Luister bietjie hoe mense hulself voorstel.
Ek is Susan, so-en-so se ma.
Ek is Jaco, ‘n kontrakteur wat vir myself werk.
Ek is Petro, die klasvoorsitter.
Ek is Sarel, ek is al 42 jaar in die gemeente.
Ons stel onsself so voor, want dis gewoonlik die primêre rolle waarin ons ons bevind. Hierdie rolle bepaal dikwels ons identiteit. Die probleem hiermee is dat ons dan ons identiteit en waarde koppel aan die mate waartoe ons aan hierdie rol se verwagtinge voldoen of nie.
Wanneer Susan die dag te kwaai was met haar kinders en nie ‘n perfek gebalanseerde ete op die tafel sit nie, voel sy nie net soos ‘n slegte ma nie, maar sommer ‘n teleurstelling in geheel.
Die dag as Jaco nie meer so baie kontrakte kry nie en nie sy gesin hierdie jaar met vakansie kan neem nie, beskou hy homself as ‘n mislukking.
Petro voel net sy het waarde wanneer sy kan organiseer en beplan en Sarel voel uitgesluit en geïsoleerd as hy weens sy siekte nie meer gereeld kan kerk toe kom nie.
Jou identiteit is hoe jy oor jouself en die wêreld dink en WIE jy in die wêreld is. Dit vorm gewoonlik in ons tienerjare, maar alles wat met ons gebeur en oor ons pad kom beitel aan ons identiteit. Ons suksesse en goeie herinneringe, maar ook ons mislukkings en seerkry oomblikke.
Dit gebeur soms dat iemand een oggend wakker word en vra: wie is ek dan nou? Dit gebeur as hierdie primêre rol wat jy vertolk ewe skielik nie meer relevant is nie. Vir sommiges raak die lewe dan ‘n lang, saai bestaan sonder doel of hoop. Ander weer gaan soek desperaat na ‘n ander rol om te vervul om net sodoende weer te voel soos “iemand”.
As kinders van God word ons identiteit nie regtig bepaal deur ons optrede of prestasies of ons kwalifikasies of ons adres nie. Dit word wel bepaal deur Wie vir ons aan ‘n kruis gesterf het. Ons identiteit word bepaal deur Iemand vir wie ons so waardevol is, dat Hy sy enigste Seun vir ons aan ‘n kruis laat sterf het. Jou waarde word bepaal deur die God in wie se beeld jy geskape, die Een wat die melkweg en die berge en die see geskep het.
My en jou uitdaging is nie om te wonder wie ons is nie, maar om te lééf soos God ons geskape het.
Jou identiteit lê daarin dat jy verlos is van sonde (Romeine 3:24), God se kind is (Galasiërs 4:5) en geliefd (Johannes 3:16) is.
Mag jy anders na jouself en die wêreld kyk as gevolg hiervan.
Mag jy leef as verlosde, geliefde kind van God.