Die krag van verhale

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Sy was meer as wat jy dink.  

'n Mens lees vinnig verby haar verhaal. Die woord "prostituut" in die vertaling skep dadelik 'n sekere prentjie. Ons mis die betekenis van die vlasstopsels op haar dak. Ons onthou die Kinderbybel "rooi tou" en iets van die stad se mure wat inmekaar val. Sy word gered deur die verspieders. Iewers het jy dalk 'n preek gehoor oor haar skielike bekering en haar onmiddellike geloof. Maar weet jy hoe 'n herberg in Jerigo gewerk het? Weet jy van die sultan se fontein in die middel van die stad? Dink jy regtig sy het so skielik begin glo in 'n vreesaanjaende, vreemde god?

As jy 'n fyn leser is - het jy dalk opgetel haar naam is in Matteus 1 se geslagsregister. Maar het jy opgelet wie was haar man (en haar seun)?

Dié verhaal fassineer my al vir jare. Die fokus is altyd op Joshua en die beloofde land maar daar lê soveel vrae vir my oor hierdie vrou. Die vrou met die huis in die muur. Die vrou met 'n geskiedenis. Die vrou wat die koning persoonlik ken en wat kan onderhandel. Die vrou wat jare later een van die belangrikste vroue in die Bybel word. Die vrou wat oorlog, vrees en verraad ken. Die vrou wat keuses maak en wat buite die kamp van die Israeliete opeindig.  

Iewers het iets gebeur. Iewers het liefde haar gevind. En iewers het twyfel, onderhandeling en angs verander in geloof, vryheid en vrede.  

Daar is soveel krag in verhale. Verhale definieer ons. In verhale lê inspirasie, die moontlikheid van verandering, perspektief en bo alles - hoop! Ons onthou in verhale. Ons reflekteer in verhale. Ons dra inligting oor in verhale.  

Ten diepste is ons narratiewe mense. Só is ons geskep. En dit is hoe die Bybel met ons praat – veral deur (mag ek waag) verhale. Dit is waarom Jesus mense deur verhale (soos gelykenisse) geleer het.  

Dink aan hom wat in 'n put gegooi is. Bang, onseker en sonder 'n toekoms. Later word hierdie selfde onseker-tiener 'n leier met wysheid en karakter. Hoe gebeur dit?

Dink aan hom wat nie deur sy eie familie raakgesien is as 'n potensiële koning nie. Later verslaan hy reuse, wen oorloë en word die grootste koning in die geskiedenis van die Ou Testament.

Dink aan haar wat geen toekoms gehad het nie, maar steeds haar skoonma getrou bly ondersteun het. Later word sy die moeder van Obed, die oupa van 'n koning en 'n Messias.

Dink aan die geleerde wat Christene vervolg het, mense vermoor het en vasgehou het aan die wet. Later verkondig hy 'n nuwe evangelie in die amfiteaters van antieke stede en bewys liefde aan heidene - ver buite die grense van Jerusalem se streng godsdiens af.

Die Bybel is vol verhale wat inspireer, fassineer en perspektiewe omkeer. Verhale waarin God se hand duidelik word - so veel so - dat jy vandag mag weet Sy hand is steeds in jou verhaal sigbaar.  

Mag die verhale van die Bybel jou in-nooi en aangryp!