Foute

Foute

geskryf deur Dr Karin Steyn

In ons huis is daar ‘n graad 1 dogtertjie met ‘n baie sterk verstaan van reg en verkeerd. Swart en wit. So alle vloekwoorde word gespel en gevra: “Maar hoekom?” Net so is daar elke middag ‘n storie van iemand wat stout was, met klomp vrae rondom dit.

Dis ‘n interessante fase met kinders. Dit laat jouself vir ‘n oomblik stilstaan en dink hoe om te verduidelik wat iets verkeerd maak en hoekom ons kies om nie so te praat of op te tree nie. Daardie fyn balans is moeilik om aan so klein koppie te verduidelik.
Kom ons wees maar eerlik – ek en jy kan maar simpel goed aanvang van tyd tot tyd. Ons begaan baie foute. Van ons foute is sommer so in die verby gaan in die manier hoe ons kies om te praat, ander foute is groot besluite met nog groter gevolge. Foute wat ons lewe definieër.

Ek hou daarvan om deur die Evangelies te lees en raak te sien hoe Jesus omgaan met mense. Veral met mense wat verkeerde goed aanvang. Hy is altyd rou eerlik, dink maar aan Sy interaksie met die vrou by die put, Hy weet van haar mans. Dink aan hoe Hy die jaloesie tussen Sy dissipels aangespreek het. Kyk bietjie hoe praat Hy met Matteus, die tollenaar. Tog sien ek raak dat mense met foute steeds gemaklik is by Hom en in hulle saam wees, kry hulle nuwe identiteit.

In Philip Yancey se boek “What’s so amazing about grace” word ‘n teoloog gevra wat is sy definisie van genade en hy antwoord, “We are all bastards and God loves us anyway.” My eie definisie van genade het iets te make daarmee dat niks anders vir my mag sê wie ek is nie. Nie familie nie, nie fame & fortune nie, nie die media nie, nie die spieël nie, niks anders behalwe genade nie. My hele hart wens om hierdie verstaan vir Nina te kan leer. Eerder as net ‘n afmerk van wat reg en verkeerd is.

Paul Tillich skryf ook mooi oor genade:
“Do you know what it means to be struck by grace? It does not mean that we suddenly believe that God exists, or that Jesus Christ is the Saviour, or that the Bible contains the truth. To believe that something is, is almost contrary to the meaning of grace. Grace also does not mean that we are making progress in our moral self-control. This may be the fruit of grace, but it is not grace itself.”

Jesus het ‘n manier gehad om hierdie genade tasbaar vir mense te maak in Sy teenwoordigheid. Daarom is Psalm 37 se woorde steeds vandag waar: “Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas.”

Mag jy hierdie week Jesus toelaat om in jou rou mens-wees ook jou hand vas te hou. Net dit verander ons wêreld. Dit is goeie nuus, nie waar nie?