Wat doen jy as jou Mentos wegrol?
Wat doen jy as jou Mentos wegrol?
Geskryf deur Sonnika Nel
Op ‘n sekere bekende (en berugte) Facebook-groep vir diegene wat in die Ooste van Pretoria woon, word daar gereeld vrae gevra soos:
“Kan julle vir my sê wie is die BESTE pediater in Pretoria?”
“Watter kleuterskool/laerskool/hoërskool/honde-skool is die BESTE?”
“Wie is die BESTE loodgieter wat julle kan aanbeveel?”
Dit verstom my elke keer as iemand so ‘n vraag vra wat tog onmoontlik ‘n feitlik korrekte antwoord tot gevolg kan hê? “Beste” is subjektief. Die “beste” tandarts in Pretoria kan my tande laat skitter en blink terwyl my buurvrou sweer sy sal hom nooit weer besoek nie. Maar benewens my verwarring oor die sinvolheid van so ‘n vraag, is die mense se obsessie met die “beste” vir my ewe opvallend.
Goed-genoeg is net nie meer goed genoeg in ons gemeenskap nie. Amper-daar is net nie ver genoeg nie. En 8 uit 10 is rede tot kommer.
Dis nie net by prestasies, posisies en punte waar ons nie enige iets minder as volmaaktheid duld nie, dis ook in onsself en die alledaagse foute en dinge wat verkeerd gaan. Ons het nie tyd vir sukkel en dinge wat nie dadelik werk nie.
Die ander Sondag sit ek heel voor in die kerk en tydens Karin se preek onthou ek van die Mentos-suiglekker in my handsak. Ek haal hom so saggies as moontlik uit om haar nie te steur nie, maar druk hom toe te hard en hy glip uit die papiertjie en rol oor die mat tot teen die verhoog se trap. Dis nou ná ‘n oggend wat ek gesukkel het om my hare na iets te laat lyk, ek my koffie oor al my papiere gemors het en die hond ‘n glips in die huis gehad het. So sit ek toe daar in die kerk vir amper 15 minute met ‘n grom in my hart en kyk verlangend na die my Mentos omdat “niks reg uitwerk nie”. Ek mis my kollega se goeie boodskap en enige kans om my week rustig te begin.
En dit net omdat ‘n paar piepklein dinge nie reg verloop het nie. My oggend was nie perfek nie en nog minder my hare! Ek voel verontreg en geïrriteerd want ek het nie tyd vir foute en dinge wat skeefloop nie en daar sit en staar ek vir die Mentos teen die trap wat my tart oor nóg ‘n flop vir die oggend.
Ek glo dat hierdie klein gevoelens van frustrasie oor klein “mislukkings” spruit uit ons konstante behoefte aan beter en beste. As dit nie die beste is nie, sien ons dit nie raak nie. As dit nie perfek is nie, tel dit nie.
Alles moet seepglad en met uiterse akkuraatheid gebeur (daarom is ‘n uitstappie na Binnelandse Sake vir menigte ‘n nagmerrie!).
Waarop mis ons nie alles uit as gevolg van hierdie ingesteldheid nie? Mis ons nie dalk ‘n klomp geleenthede om te groei eerder as om te grom nie? Mis ons nie die mooi van probeer in ons alewige soeke na presteer nie?
Niemand is perfek nie. So jy kan gerus ophou soek na daardie persoon. Jy kan ontspan en ophou om daardie persoon te probeer wees.
Een keer se slegte Wiskunde-punt vereis nie dadelik ektra klasse nie. Een keer se slegte diens by ‘n restaurant regverdig nie dat jy hulle boikot en swartsmeer op Facebook nie. Die een keer wat jy nie dadelik iets regkry nie beteken nie jy is ‘n nikswerd nie. Ons moet leer om sag te kyk na ander en ons eie foute.
Jesus het. Hy het met deernis gekyk na Saggeus en Petrus en die vrou by die put en het potensiaal raakgesien.
Gee die ou wat tweede of derde beste is ook ‘n kans. Gee iemand ‘n kans wie se naam nie eers op die ranglys verskyn nie.
Gee jouself ‘n kans.
Jy is goed genoeg.
Nes jy is.