Iets nuuts

Iets nuuts

Geskryf deur Zander van der Westhuizen

Gewoonlik is die 1ste September 'n koue dag in Pretoria. Dikwels in die verlede het dit selfs gereën op dié dag. Hierdie jaar was Lentedag heerlik en kan 'n mens die somer voel.

Saam met die verandering van die seisoen kom die gevoel van nuwe lewe. Die winter word afgeskud, die natuur wys tekens van verandering en 'n nuwe tyd wink op die horison. Ons voel dit in die lug, ruik dit tussen die bome en plante en sien dit in bloeisels en die groenigheid.

Hier kom iets nuuts.

In ons lewens het ons soms iets nuuts nodig, nie waar nie? Jy kry die gevoel aan jou lyf dat daar verandering nodig is. Ons voel soms aan as 'n seisoen tot 'n einde kom en 'n nuwe een moet begin.

Dit kan 'n nuwe verhouding wees, 'n nuwe projek of selfs 'n nuwe werksomgewing. Dalk is dit tyd om daardie nuwe sportsoort of stokperdjie aan te leer óf om deel te word van 'n nuwe gemeenskap van vriende. Soms word dit ingelei deur 'n ordentlike breek in jou ritme - soos 'n sabbatstyd - om perspektief te vind.

In Esegiël 36 wil die Here iets nuuts in Sy volk se seisoen van ballingskap doen. Hy wil die straf omkeer en genade bewys. Hy wil hê hulle moet besef wat gelei het tot waar hulle nou is sodat daar genesing en herstel kan wees. As't ware wil Hy hê hulle moet tot bekering kom.

Hoe doen hy dit? Wat is nodig vir die nuwe seisoen? Iets dieper as net 'n nuwe omgewing, verhouding of nuwe rigting.

'n Nuwe hart.

Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. (Es 36:26)

Jy kom dit dalk nie agter nie, maar jou aanvoeling vir iets nuuts in jou lewe lê dalk in jou geestelike lewe. Dit lê dalk in die besef dat die Here met jou nuwe dinge wil doen en dit begin by jou hart.

In die antieke tyd was jou hart die sentrum van jou denke en wil. Jou keuses is daar gemaak en jou karakter is in jou hart sigbaar. Uiteindelik was jou hart jou geestelike toestand voor die Here. Jou hart was rein of jou hart was verhard.

Jou hart was jou hele binnemens en daarom is die Here besorg oor wat in jou hart aangaan.

Is jou hart op die regte plek? Is jou hart sag, rein en gevul met God se Gees? Is jou hart in 'n gesonde geestelike toestand?

Miskien is jou nuwe seisoen hierdie lente om 'n nuwe hart te ontvang. Jou iets "nuuts" lê nie buite in jou praktiese lewe nie, maar in jou binnekant. Miskien is dit waar jy eerste moet kyk en soek wanneer jy daardie gevoel kry dat iets nuuts in jou lewe nodig is.

Die Here wil dalk vir jou ook 'n nuwe hart gee - 'n sagte hart, 'n rein hart, 'n hart vol iefde en genade.