Humankind - Be Both

Humankind – Be Both

Geskryf deur Marco Koch

Een van my vriendinne se Whatsapp status is Humankind – Be Both. Wees mens én wees goedhartig. Of anders gestel: om mens te wees ís om goedhartig te wees.

Tydens ‘n politiese onstuimige tyd van die Universiteite se #MustFall bewegings in die vroeë 2010’s het ek as student eenkeer vir Prof. Danie Veldsman (Professor in Dogmatiek en Christelike Etiek) gevra: “Waar is die Mandela’s van vandag?” Ek sal sy antwoord nooit vergeet nie, hy sê “Waar is hulle nie? Dit is al die Mandela’s in die samelewing, al die mense wat jy raakloop in jou alledaagse lewe, wat ‘n liefde het vir hul medemens. As jy jou oë oopmaak sal jy dit sien.”

Dit is iets wat ons dikwels miskyk: die goedhartigheid van mense. Ons leef in ’n wêreld waar die nuus en sosiale media ons daagliks vertel dat dinge donker en sleg is. Maar die waarheid is – die wêreld is nie so boos soos dit soms lyk nie. Daar is baie meer goedheid rondom ons as wat ons dink.

Die skrywer Rutger Bregman, in sy boek Humankind, vertel ’n storie wat my diep geraak het. Hy vertel ‘n bekende verhaal uit die Tweede Wêreldoorlog, toe ’n Britse vliegtuig naby ’n Duitse dorp in die see neergestort het. In plaas daarvan dat die Duitse dorpenaars die vyande hardhandig behandel, het hulle kos en klere gebring. Hulle het hierdie jong soldate as mense gesien – nie net as vyande nie. Dit wys iets van ons ware natuur: diep binne in ons is daar ’n ingeboude geneigdheid tot medemenslikheid, goedhartigheid en omgee.

Mense is in hul diepste wese oorwegend goed en geneig tot samewerking en omgee. As ons begin glo dat mense goed is, kan dit ons samelewings, skole, politiek en ekonomie verander.

Bregman wys dat baie van die verhale wat ons van kleins af hoor vertel dat die mens van nature selfsugtig, wreed en meedoënloos is. Dink maar aan hoe die kinders van Lord of the Flies teen mekaar veg vir oorlewing. Bregman vertel die volgende ware verhaal wat die Lord of the Flies narratief uitdaag:  In 1965 het ses tienerseuns van Tonga in ‘n klein bootjie op die oopsee verdwaal. Hulle is deur ’n storm verras en was uiteindelik vir meer as ’n jaar (15 maande) op die klein onbewoonde eiland, Ata, in die Stille Oseaan gestrand.

Volgens William Golding se Lord of the Flies sou sulke seuns mekaar wreed behandel en in chaos verval. Maar die ware verhaal was die teenoorgestelde:

  • Die seuns het ’n stelsel van samewerking ontwikkel – hulle het take verdeel soos om kos te soek, ’n groentetuin te maak, water op te vang en ‘n vuur aan die gang te hou.
  • Hulle het reëls en dissipline gehad, maar ook saam gesing en gespeel.
  • Wanneer iemand seer gekry het, het die ander hom versorg totdat hy herstel het.
  • Hulle het nooit in stamme verdeel nie – inteendeel, hulle het hegte vriendskappe en solidariteit opgebou.

Na hulle redding het die kaptein wat hulle gekry het gesê: “Dit is die teenoorgestelde van Lord of the Flies.”

Wanneer ek rondloop in ons eie Suid-Afrika, dan ervaar ek dieselfde. Ek sien dit wanneer mense in ’n winkelsentrum vir mekaar die deur oophou of net ’n glimlag te deel. Ek sien dit in die park waar ouers mekaar help om kinders dop te hou. Ek sien dit by skole waar kinders met mekaar deel en vir mekaar opstaan. Hier tussen ons Suid-Afrikaners, oor kultuur en taal heen, vind jy ’n eenvoudige maar kragtige gasvryheid.

Ja, ons het uitdagings in hierdie land. Maar God se Gees wys vir ons daagliks dat ons menswees geseënd is met die vermoë om goed te doen. Jesus sê self in Johannes 13:35: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

My uitnodiging aan jou vir hierdie week is eenvoudig: sien die goedhartigheid om jou raak.

Raak stil en let op hoe mense mekaar help, hoe klein dade van medemenslikheid ’n groot verskil maak. En dan – wees self daardie mens. Wees sout en lig. Bring hoop deur eenvoudige dade van medemenslikheid.

Ons leef nie in ’n slegte wêreld nie. Ons leef in God se wêreld – en Hy werk steeds deur die liefde in mense se harte.

Mag jy hierdie week bid en deelneem aan Jesus se droom “Laat U koninkryk kom!”