Die doringdraad op jou muur

geskryf deur Sonnika Nel
Let bietjie op na die huise in jou buurt se mure, hekke en ander fisiese strukture om onwelkome besoekers buite te hou.  

Party huise het amper geen sigbare versperring nie en indien in ‘n veiligheids-area, staan die voordeur ook sommer oop. Ander huise is glad nie sigbaar van die pad af agter ‘n 2m-hoë muur nie en daar is sommer ‘n dubbelrol doringdraad ook op die muur.

By party huise is daar ‘n mooi heuphoogte heining met ‘n vriendelike tuinhekkie. Soms stap jy by iemand se erf in en alhoewel daar nie hoë mure en groot slotte is nie, sien jy die sekuriteitskameras en “beams” wat vir jou loer.  

Wanneer jy voor ‘n huis staan, kry jy een van twee boodskappe: kom gerus in OF bly eerder buite.

Mense is ook so.  

Die afgelope ruk kom ek nogals baie mense teë wat regtig hulle bes doen om met hulle woorde en optrede ander mense weg te dryf of af te skrik. Asof hulle ‘n duidelike boodskap probeer uitstuur: Bly weg van my af!

Mense bou soms baie hoë mure om hulself om ander mense uit te hou.  Partykeer het hulle selfs ‘n baie goeie rede hiervoor. Trauma, verraad, teleurstelling of verwerping. Dit is ook nie verkeerd om mure te bou wat jou veilig hou wanneer dit nodig is nie.  Die probleem hiermee is wanneer jou mure té hoog is, die slot aan jou hek al geroes het of die doringdraad op jou muur selfs geliefdes afskrik, dan hou dit nie net die gevaar uit nie, maar laat ook nie liefde in nie.

Hierdie sogenaamde veiligheidsstrukture kom in verskillende vorme: kritiek teenoor almal om jou wat nie soos jy dink nie, onttrekking van diegene wat lief is vir jou of oorsensitiwiteit wat jou “beams” onnodig aktiveer. Elke afjak in iemand se rigting laat jou slotte verder roes. Elke ongevoelige opmerking bou nog ‘n ry bakstene op jou muur. Elke selfgesentreerde besluit maak dié boodskap nóg duideliker: Jy is nie welkom naby my nie!

Wrokke, bitterheid en veroordeling hou mense weg.

Vergifnis, vriendelikheid en empatie nooi mense in.

Paulus herinner ons hieraan : “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind.

Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.” (Kolossense 3:12 – 15)

Wees versigtig dat jou mure wat jy dink jou beskerm, nie veroorsaak dat die mense waarvoor jy lief is nie meer kans sien om aan jou deur te klop nie.
Olie jou hek se slotte gereeld, breek ‘n paar rye bakstene af en haal gerus die doringdraad af.
Jy sal verbaas wees hoe lekker dit kan wees as jou deurklokkie gereeld lui!

Groete,

Sonnika