May I pray for you, sir?

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ons het lekker geëet in Hazelwood by my gunsteling pizza-plek en ek wil die gaste uit die Kaap die mooi nuwe wandelpad wys. In die aand is dit 'n bekoring met al die liggies, die mooi muurskilderye en die versierings teen die nuwe mure. Ons is net verby die renoster-beeldhouwerk toe die jong man - ek skat hom so 22 jaar - my voorkeer.

"May I pray for you, sir?"

Die gaste maak asof hulle dit nie gehoor het nie, maar eintlik was hulle net nie lus vir die konfrontasie nie.

"Yes, you may", sê ek.

Die jong man bid 'n kort gebed (waarvoor ek dankbaar was) en dra my aan die Here op. Na die gebed vra ek hom uit. Hy kom van Madagaskar en is tans op 'n tipe "Diensjaar vir Christus". Hulle reik vir 'n paar maande uit in verskillende lande en vertel vir mense van Jesus. Hy is dankbaar ek is reeds 'n gelowige en verbaas dat hy 'n predikant raakloop. Hy wys vir my hulle kursusmateriaal en wens my 'n mooi aand toe.

Die gaste noem my 'n "goeie mens" en is verbaas dat ek nie vir 'n halfuur besig gehou is met een of ander debat en indoktrinasie nie (wat ek verstaan!).

Ek loop nog lank en dink oor die ervaring en dié jong man.

Hier is 'n jong man wat 'n jaar van sy lewe vir die Here gee. Hy kon soveel ander keuses gemaak het vir hierdie tyd van sy lewe - maar soos baie jong mense (ook in ons land) - kies hy 'n jaar toegewy aan sy geloof. Dit is per implikasie 'n keuse teen 'n jaar van JOOL, koshuispartytjies, studies, laataand-kuiers met baie ander versoekings en 'n lewe van groot wêreldse genot.

Maar hy doen ander ondervinding op. Hy leer om afhanklik te leef. Hy leer hoe om na ander te luister. Hy beleef wat gebeur as jy vir vreemdelinge bid en iemand jou met dankbaarheid en goedhartigheid ontvang. Jy leer wat werklik geluk bring en hoe dit is om saam met ander gelowiges dieselfde ervaring te deel (en hoe dit jou verhoudings beïnvloed). Jy ontdek die geskenk van diensbaarheid en wat dit met jou hart doen as jy meer daarvan leef.

Jare terug het ek 'n vriendin in Oostenryk ontmoet. Ons het 'n daguitstappie geneem na 'n berg in die middel van die stad Graz. Ek het skaars bo-op die berg aangekom toe 'n man reguit op my afloop en in Duits iets vir my sê. Hy gee toe vir my 'n geskenk - 'n silwer tipe stuk juweliersware (soos wat jy aan 'n hangertjie sou hang) in die vorm van 'n simbool wat heenwys na iemand wat 'n groot leier was.  

My Duits was nie só goed nie, maar my vriendin het gelukkig alles gehoor. Iets in die lyn van: "Die Here het my gestuur om vandag spesifiek hierdie geskenk vir jou te gee. Jy is syne en jy is spesiaal vir Hom. Hy gaan nog groot dinge deur jou doen".

En daar is die man weg.

Ek was skepties oor die boodskap maar dankbaar vir sy hart en intensie. Uit my perspektief het ek gedink hy kon maar na enige iemand toe gestap het. Maar dit was vreemd hoe hy spesifiek gewag het en toe hy my sien - dadelik op my afgepyl was.

My vriendin het geglo dit was "divine intervention".

Twee stories.
Twee volgers van Jesus.
Albei het my kom bedien.
En ek is dankbaar daarvoor.

Wanneer laas het jy na iemand toe gestap en vir hulle gebid? Wanneer laas was jy so gefokus op die Here se stem en iemand anders as jouself, dat jy 'n boodskapper van God se liefde word in iemand anders se lewe.

Die Here wil nog groot goed deur jou doen.