Algoritmes

geskryf deur Dr Karin Steyn
Net laas week kuier ek by ‘n ou tannie in ons gemeente. Soos ek uit die kar uitspring, gryp ek net my sleutel en my foon. Terwyl ons let ek op dat die tannie heeltyd na my foon kyk. Later sê sy, “jy moet versigtig wees met daai klein rekenaartjie – hulle luister jou af”.

Ek en ‘n vriendin gesels oor ons wêreld van algoritmes en “influencers” en sy deel die oulike grappie met my: “I didn’t have influencers growing up, I had uncles who gave bad advice for free”.

Hoe sou ‘n wêreld lyk wat nie beïnvloed is deur algoritmes nie? Ons kan dit vandag amper nie meer indink nie.

Nadia Bolz-Weber (‘n teoloog in Amerika) vertel van twee vriendinne wat verskillende politiese oortuigings het. Beide van hulle het Charlie Kirk gevolg, maar na alles romdom sy dood het beide inligting op hulle sosiale profiele ontvang beinvloed deur hulle algoritmes. Toe hulle later saam kuier en hieroor gesels, was dit asof hulle nie van dieselfde persoon praat nie.

Dít is die gevaar van ‘n sosiale media “clip” wêreld  waarin ons deesdae leef. Konteks raak weg. Woorde word verdraai en die groter prentjie raak verlore.

Soms gebruik mense ‘n klein deeltjie om ‘n totaal ander storielyn te skryf as die oorspronklike gebeure. Ons soek vir “clips” wat vinnig vir jou ‘n opinie wys. Ons sal vandag ‘n uur lange praatjie of debat, opbreek in drie lyntjies wat ‘n spesifieke narratief pas.

Binne die wêreld vorm ons vandag opinies.
Binne die wêreld lê gebrokenheid ook altyd by die “ander” maar nie by “ons” nie. Die manier van praat pas nie regtig by die evangelie nie. Want God doen sy mooiste werk in en deur ons, as ons bewus is van ons eie gebrokenheid.

Sosiale media maak ons wêreld groter maar ook moeiliker. Mense soek nie regtig vandag meer vir waarheid nie.

Onthou ons nog ‘n wêreld voor Facebook en alle ander sosiale platforms? Wat was die dinge waarmee jy jou kop besig gehou het?

Toe ons verskillend gedink het en mekaar steeds ordentlik hanteer het. Vir my is dit, die slegste in ons wêreld: dat ons totaal ‘n nuuskierigheid oor mense wat anders as ek dink en doen verloor het. Ons wil almal dadelik in ‘n reg en verkeerd kamp in ons gedagtes plaas.

Nou wonder julle dalk al waarby ek die week wil uitkom – want julle sien die algoritmes self raak op julle fone en in julle lewens. Ek wil net weer ‘n oomblik stop en regtig bewus wees van hoe diep ons lewens hierdeur geraak word. Hoe diep my gedagtes hierdeur gevorm word.

Waaraan hou ek vas met my geloof in die wêreld van ons? Dat God se krag nie in taal-algoritmes vasgevang kan word nie. Dat mense in hulle gebrokenheid, juis die plek is waar God se Gees werk.

Mag jy die week met nuwe oë kyk na die wêreld waarin jy leef.

Vrede,
Ds Karin