Wees verveeld

geskryf deur Ds Marco Koch
’n Paar jaar gelede het ’n groep sielkundiges ’n vreemde eksperiment gedoen. Hulle het verskeie mense vir 15 minute alleen in ’n kamer laat sit met die eenvoudige opdrag om absoluut niks te doen nie. Daar was net een ander opsie: ’n knoppie waarmee hulle hulleself ’n ligte elektriese skok kon gee. Die meeste deelnemers het verkies om hulleself nou en dan te skok eerder as om net stil te sit en niks te doen nie!*

Skokkende resultaat, nie waar nie?!

Arthur Brooks, ’n professor van Harvard, vertel hierdie storie oor die waarde van verveeld wees. Verveeldheid is nie lekker nie. Verveeldheid is ongemaklik. Só ongemaklik dat mense letterlik eerder hulself sal skok as om met hul eie denke gekonfronteer te word. Hy verduidelik dat ons brein egter verveeldheid (of dalk verveeltyd) nodig het. Want wanneer ons nie met iets besig is nie, skakel ons brein oor na die sogenaamde “default mode network” – die deel van ons denke waar kreatiwiteit, self-refleksie en betekenis geskied. Dis waar ons die groot vrae oor ons lewe begin vra: Wat is nou eintlik belangrik in my lewe? Waarheen is ek op pad? Wat beteken dit regtig om gelukkig te wees?

Dít is die waarde van verveeld wees. Diepe refleksie. Soeke na betekenis.

Ons moderne leefstyl met selfone laat ongelukkig weinig ruimte vir ongemaklike stiltes. Elke keer as daar ’n paar sekondes se rus kom, gryp ons na die foon.

Let bietjie op:
  • Het jy al gesien hoe iemand nie die 15 sekondes kan wag voor die robot groen word, sonder om hul foon uit te haal nie? Dis nou ongelukkig nie net voetgangers nie, maar ook bestuurders.
Vra jouself die volgende vrae:
  • Gryp jy na jou foon die oggend wanneer jy wakker word?
  • Kan jy vir twee min vir iemand wag sonder om jou foon uit te haal?
  • Wanneer laas was jy badkamer toe sonder jou foon?

Ons maak min kans om ons eie gedagtes te hoor. En uiteindelik konfronteer ons nie die vrae van ons harte nie. En so raak ons stomp vir vrae oor betekenis en vrede.

Jesus het sélf dikwels doelbewus van die mense af wegbeweeg om in stilte te verkeer. Let op dat stilte en stiltetyd (Bybelstudie) nie dieselfde ding is nie. Lukas 5:16 sê: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”

Daar, in stilte, het Jesus weer Sy Vader se stem gehoor. As Jesus dit as ‘n belangrike geloofsritme ingewerk het, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?

Die ironie het my nie ontgaan dat jy hierdie boodskap tien teen een op jou selfoon lees nie.

Ek wil jou tog uitdaag met vyf eenvoudige maniere om hierdie week meer ruimte vir stilte te skep:
1. Moenie met jou selfoon by die eetkamertafel sit nie. Gesels eerder met mekaar. Vra eenvoudige vrae: Wat was goed van die dag? Wat was sleg? Wat het jy geleer?
2. Los jou foon in ’n ander kamer wanneer jy slaap. Jou eerste en laaste gedagte van die dag hoef nie van ’n skerm af te kom nie.
3. Ry, stap of oefen soms sonder musiek of ’n podcast. Laat jou gedagtes net dwaal.
4. Neem kort vas-tye deur jou foon op “flight mode” te sit. Iemand sal jou gade bel as hulle jou in die geval van ‘n noodgeval dringend soek.
5. Los asb jou foon wanneer jy badkamer toe gaan.

Wie weet – dalk hoor jy in daardie stil oomblikke weer iets van God se sagte stem. En dalk besef jy dat om verveeld te wees nie ’n vloek is nie, maar ’n geskenk wat jou weer help om sin en betekenis te vind.

Wees verveeld. Wees geseënd.

Vrede,
Ds. Marco Koch

*Skakel na artikel van studie: https://dtg.sites.fas.harvard.edu/WILSON ET AL 2014.pdf