Ontdek God

Matteus 26:17-30
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Daar is min dinge wat so intiem is soos ‘n ete. Dis ‘n geleentheid om skouers te skuur, mekaar in die oë te kyk of om te baklei oor die laaste souskluitjie. Daar is min dinge wat ons so na aan mekaar kan laat voel soos ‘n ete. Tog is dit nie altyd die geval nie. Somtyds sit jy en een van jou mede-tafelgangers vas oor iets. Al is julle naby mekaar, kan julle baie ver van mekaar voel. Dalk eet jy jou ma se spesiale lasagne-resep al is sy lankal nie meer in jou midde nie. Dan is sy naby aan jou, maar terselfdertyd voel jy die afstand, die afwesigheid, vreeslik akuut aan.

Dit is die soort van paradokse waarmee ons daagliks moet vrede maak. ‘n Nabyheid en tog ook ‘n afstand. Ek vermoed menige mens ken hierdie gevoel baie goed. Met soveel familie wat al vir jare oorsee bly, is die meeste nabyheid wat jy kan voel, deur dié van ‘n rekenaarskerm. Jy is naby want jy sien hulle. Jy kan hul gesigsuitdrukkings uitmaak en stemtone hoor. Tog is daar ‘n enorme afstand. Tog is daar iets wat afwesig is.

Ek wonder nogal hoe die dissipels in hierdie opsig tydens die laaste ete saam met Jesus gevoel het. Hier was ‘n ontsettende nabyheid. Dis vriende wat jare lank al saam met mekaar gereis en geleef het. Hulle het die nabyheid van God se koninkryk gepreek. Hulle kon sien hoe mense se lewens aangeraak word. Ek dink die kameraderie moes ongelooflik gewees het.

Tog dink ek daar was ‘n afstand, veral met Jesus se woorde: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” (vers 21). Is daar enige iets wat meer afstand tussen mense skep as verraad? Met Jesus se aankondiging dat een van hierdie vriende Hom nog gaan verraai, het daar ‘n afstand ontstaan wat baie moeilik oorkom kon word.

Tog verhinder dit Jesus nie om die nagmaal in te stel nie. Ten spyte van hierdie ‘geestelike’ afstand tussen Hom en sy dissipels gaan Jesus voort om die nagmaal in te stel. Baie van ons sou gehuiwer het. Ons hou daarvan om almal op dieselfde bladsy te wees maar Jesus gaan voort - met Judas en Petrus aan dieselfde tafel! Dit sê baie.

Dalk is dit ‘n dimensie van die nagmaal wat vandag vir ons ook belangrik is. Vandag beleef ons isolasie en afstand op globale skaal. Selfs al is jy saam met mense in isolasie kan jy dalk steeds alleen voel en ‘n afstand tussen mense beleef. Ten spyte hiervan is die boodskap van die nagmaal relevant. God werk juis met ons in die paradoks. Ons beleef die verlies en eensaamheid van Jesus aan die kruis in hierdie tyd. Ons beleef ook die genade en liefde van ‘n God wat vergewe en die afstand tussen ons en Hom verwyder.

Dalk is dit waarom Jesus die nagmaal bedien ten spyte van die afstand tussen Hom en sy dissipels. Hulle moet hoor en sien en proe dat God goed is. Juis omdat daar ‘n afstand tussen hulle is, want dit help om die afstand uit te wis.