Wat beteken dit om te glo?

Johannes 20:26-31
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Iemand sê nou die dag vir my hulle ‘glo nie daaraan om verniet te werk nie’. Daar is natuurlik niks daarmee fout om hierdie as een van jou beginsels te hê nie. In Jesus se woorde is die arbeider tog geregtig op sy loon. Wat my eerder geïnteresseer het, is dat die persoon gekies het om die woord glo te gebruik.

Dít het my laat dink, want ons gebruik almal die woord ‘glo’ gereeld in die gewone omgangstaal. Ek glo nie die petrolprys gaan ooit weer herstel nie. Ek glo alles sal weer normaliseer. Ek glo nie die Blou Bulle gaan vinnig weer die Curriebeker wen nie.

Ons gebruik die woord geloof op soveel plekke in ons lewens en almal heg nie altyd dieselfde betekenis daaraan nie. Vir party mense is geloof gekoppel aan ʼn lewensbeginsel. Bv. - Dit is teen my beginsels om verniet te werk. Vir ander mense is dit gekoppel aan ‘n konsep wat in die toekoms lê, dikwels iets wat met hoop gepaard gaan. Bv. - Ek glo dit sal beter gaan. Vir ander is geloof weer net ‘n bevestiging van sekere waarhede. Bv. - Ek glo die aarde is rond. Ek glo Jesus is die Seun van God.

In hierdie tyd is een van die sentrale geloofsverklarings dat ons sal glo Jesus het werklik opgestaan uit die dood. Wat beteken dit om te glo Jesus het opgestaan? Is dit ‘n lewensbeginsel? Is dit ‘n vorm van kennis, al is dit nou wel geloofskennis?

Aan die einde van die Johannes-evangelie skryf die evangelis die volgende woorde:

Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. (Joh. 20:30-31)

Hierdie woorde is ʼn redaksionele kommentaar vir al die gelowiges in ‘n geloofsgemeenskap ‘n hele paar jaar na Jesus gelewe het. Jesus se opstanding gaan nie oor lewensbeginsels nie. Dit gaan ook nie oor ‘n vorm van kennis nie. Niemand gee om wat jy glo nie. Ons weet wat jy glo deur te kyk hoe jy leef.

Ware geloof in die opstanding van Jesus behoort sigbaar te wees in die wyse hoe jy leef. Ek dink daarom ook dat daar ‘n veel groter dimensie is in die woorde: “...sodat julle, deur te glo, in sy naam lewe kan kry”.  Dit is nie alleenlik ʼn verwysing na die ewige lewe nie. Dit is groter as dit. Indien jy glo Jesus het opgestaan, gee dit nou vir jou die lewe. Dit laat jou sin en betekenis kry vir jou lewe op hierdie oomblik. Dit help jou om enige omstandighede met moed en durf aan te pak. Dit beïnvloed hoe jy mense help in hierdie tyd - dalk met tyd, dalk met gebede, dalk met geld, dalk met bemoediging.

Mag jy in hierdie tyd leef in die opstanding van ons Here Jesus Christus. Mag mense in jou lewe die hoop en vernuwing van die opstanding sien. Mag ons weet wat jy glo deur te sien hoe jy leef.