Oorwinnaar of slagoffer?
Johannes 5:1-17
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk
Finansieel gesproke was die begin van die jaar vir my ʼn groot uitdaging. Van ʼn kar wat herhaaldelik breek tot ʼn hond wat steke moet kry. Van ʼn boom wat op my muur val na ʼn plafon wat waterskade kry. In hierdie tyd was ek deeglik terneergedruk. Ek het met elke telefoonoproep die ergste verwag. Ek het op ʼn stadium gekom waar ek net slegte nuus verwag het. En elke keer wanneer daar dan weer slegte nuus gekom het, het ek myself net meer jammer gekry. Ek was nie op ʼn goeie plek nie.
Soveel dinge in die lewe gaan oor jou ingesteldheid. As jy gaan lelike dinge soek, gaan jy lelike dinge sien. As jy gaan mooi goed soek, gaan jy mooi goed sien.
In die gedeelte waar Jesus die man by die bad by Betesda gesond maak, kan ons ook ʼn soortgelyke afleiding maak. In hierdie gedeelte sit ʼn man by ʼn bekende genesingsbad in hierdie tyd. Of hierdie bad werklik mense gesond gemaak het is twyfelagtig. Tog het die bygeloof bestaan dat indien jy in die bad klim sodra die engel daaraan roer met sy vinger, sal jy gesond word.
Wanneer Jesus daar verby kom vra hy die vraag: “Wil jy gesond word?”
Hierdie is ʼn vreemde vraag. Natuurlik wil die man gesond word! Hy sit dan by hierdie bad. Hy is dan gestremd! Hy sukkel dan! Anders sou hy mos nie daar gesit het nie!
Ons kan seker net spekuleer oor waarom Jesus hierdie vraag vra. Uiteindelik word hierdie man genees. Nie omdat hy in die bad gespring het nie, maar omdat Jesus Hom gesond gemaak het. Ek wonder daarom of Jesus nie vir hom hierdie vraag vra, juis om hom in beweging te bring nie. Dalk het die man nodig gehad om homself te ondersoek en sy perspektief te verander. Dalk was die probleem juis dat hy homself so jammer gekry het, dat hy naderhand glad nie meer homself as iets anders as ’n slagoffer kon sien nie. Daarom hits Jesus hom aan: Tel jou goed op en loop
In die lig van die opstanding van Christus het hierdie woorde net soveel meer betekenis. Met Jesus se opstanding het ons die reg verbeur om as slagoffers te leef. Want saam met Christus het ons die oorwinning behaal. Daarom glo ons dat ons ook sal opstaan en oorwin in hierdie omstandighede. Daarom sal ons bly hoop, bly volhard, bly verdra.
Want Jesus het oorwin.
En ons deur Hom.