Wees kreatief!

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Die Bybel begin met God wat skep.
Dit was nog altyd vir my insiggewend.

Wanneer ons die openingstoneel van die geskiedenis lees, dan stel die Here Homself as 'n Skepper aan ons bekend. Dit is die eerste eienskap van God wat ons leer ken. Ons leer later nog baie ander aspekte van God ken, maar die eerste ontmoeting het met kreatiwiteit te doen. Vars. Nuut. Skeppend.

Ons leer verder in Genesis dat ons na God se beeld geskep is. Iets van God word in ons weerspieël. Dit is vir hierdie rede dat ek glo ons is geskep om ook te skep. Die mens vervul iets van haar roeping deur vars en nuut te dink. Om nuwe lewe in 'n dikwels vervelige landskap in te blaas is ons identiteit.

Kreatiwiteit het te doen met gedigte, woorde, musiek, kuns en hande. Maar dit het ook te doen met probleemoplossing, "buite die boks" denke en nuwe idees. Dit is die aksies van kunstenaars, musikante, skrywers, digters, skilders, sjefs en akteurs. Dit is die insigte van ekonome, leiers, werkgewers en ouers. Dit is die rigting van argitekte, bouers, ontwerpers, ingenieurs en beplanners. Dit is in elkeen van ons se menswees ingeplant.

Ek herrinner jou hieraan want in hierdie tye is dit belangrik om te onthou wie die Here jou gemaak het om te wees. Jy is geskep om te skep. Kreatiwiteit is die antwoord op menigte oomblike van hopeloosheid, depressie en selfsugtigheid. Dit is die begin van nuwe lewe uit situasies gebore uit krisis. Die mens het dit oor en oor al bewys: kreatiwiteit red.