Nee, ek kan nie stilbly nie

Job 7:11-21
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

“Nee, ek kan nie stilbly nie, in my beproewing wil ek praat, in my bitter lyding wil ek kla.”

Job worstel met die Here. Hy het alles verloor. Hy was siek, vol pyne, sy liggaam oortrek met rowe, sy vel vol barste. Al was daar nie in hierdie gedeelte gesê dat Job besig was om te bid nie, praat hy wel met die Here. Hy spreek die Here aan. Hy kla by God. Hy vra vrae. Hy sê dat hy die Here se handelswyse met hom nie verstaan nie. Wat het hy dan verkeerd gedoen? Waarom vergewe die Here hom nie maar nie?

Job se vriende was maar baie onsimpatiek en beterweterig. Hulle het hom nie veel kans gegee om te praat nie en het nie juis na hom geluister nie – net genoeg dat hulle met hom kon stry.

Dan kla Job maar by God. Want om stil te bly, bring nie rus en berusting nie. Om stil te bly laat ʼn mens nie beter voel nie. In lyding en beproewing het ʼn mens behoefte om te praat en te kla. Dit bring tog verligting vir jou beswaarde gemoed. Jy kan jou twyfel uitspreek. Jy kan ten minste vir die Here sê: “Ek verstaan nie, Here. Waarom maak U my U teiken? Waarom juis ek? Waarom word ek uitgesonder vir U kastyding (v.20).

In elke mens se lewe kom daar tye van hartseer, lyding en beproewing. Op die oomblik deel ons in ‘n groot mate ‘n universele hartseer en bekommernis. Job leer ons dat ons nie daaroor hoef stil te bly nie. Job leer ons dat ons daaroor kan praat en dat ons na mekaar moet luister. ‘n Groot gevaar is dat ons nou na beterweterige vriende gaan luister wat vir ons sê hoe ons moet voel, hoe ons moet dink, wat ons moet doen.

Die realiteit is egter dat NIEMAND weet wat vir ons voorlê nie. Niemand van ons weet hoe om hierdie tyd “suksesvol” te navigeer nie. Almal van ons voel-voel maar in die donker ons pad vorentoe. Maar net omdat niemand noodwendig ‘n antwoord het nie, beteken dit nie dat ons hoef stil te bly nie.

Gebruik daarom hierdie tyd om te praat. Praat met jou gesin. Praat met jou vriende. Praat met medegelowiges. Praat met jou dominees en jou mentors. En praat met die Here. Want ons hoef nie stil te bly nie.