Lewe in 'n hopelose situasie

ESEGIËL 37:1-14
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Wiliam Kamkwamba was 'n jong seun in Malawië toe hy in 2002 'n hele dorpie gered het. In die middel van 'n droogte, sonder geld om skool toe te mag gaan, het hy 'n windmeul gebou. Deur boeke te lees het hy geleer hoe om 'n fiets met 'n dinamo te gebruik om elektrisiteit op te wek. Die elektrisiteit kon 'n ou pomp laat werk om water te pomp. Die water kon tydens 'n droogte lei tot mielies wat groei.

Die storie van William Kamkwamba bly in my gedagtes sedert Sonnika tydens die Gesinskamp vir ons 'n gedeelte van sy TED aanbieding gewys het. Ek kon nie anders as om die film oor sy lewe te gaan kyk nie. "The boy who harnessed the wind" vertel die verhaal van hierde jong seun se omstandighede en hoe hy bo dit uitgestyg het. As jy verder soek, kan jy baie lees oor hoe hierdie jong seun se lewe van 'n hopelose hoop droë bene in 'n fontein van inspirasie verander het. Hy kon dit regkry om bo sy omstandighede uit te styg. Te midde van droogte en moeilike omstandighede het kreatiwiteit en deursettingsvermoë 'n hele dorp verander.

Ek het lanklaas die visioen in Esegiël gelees. 'n Vallei van droë bene word deur die Here gebruik om die profeet te wys dat die Gees nuwe lewe kan bring. In die Bybelse konteks, verwys dit na God se volk. Maar ek en jy weet die beeld is waar van meer as dit. God blaas nuwe lewe in dooie situasies in.

Die boodskap spreek my in hierdie tyd aan. Daar is moeilike tye oppad. Ons gaan al hoe meer droë bene sien. En ons gaan moet kies hoe ons na hierdie droë bene kyk - as 'n hopelose situasie of een met potensiaal vir nuwe lewe?

Jou antwoord gaan lê in jou lewensuitkyk, jou verstaan van jou roeping en jou geloof in God se Gees. William Kamkwamba het ten spyte van almal om hom se pessimisme bly glo daar moet 'n weg wees. Hy was reg.

As 'n gelowige moet jy bly vashou aan Paulus se gebed dat God in staat is om meer te doen as wat jy kan bid of dink. As 'n gelowige moet jy glo dat God se Gees nuwe lewe uit die as kan laat opstaan.

Jy sal jou denke moet ondersoek. Jy sal jouself moet afvra of jy dink nuwe lewe kan kom uit 'n hopelose situasie. Jy sal moet besluit watter rol gaan jy daarin speel. Jy sal moet besluit of jy soos Israel gaan sê: "Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie" of gaan jy die profeet wees wat sê: "Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe"?

Besluit nou.
God wil jou gebruik.

Dankie William vir jou inspirasie.