Moenie vir my sê daar is hoop nie

Genesis 1:26-28
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Saterdagoggend het ek besluit om te gaan draf. Die draf self was ietwat onaangenaam as gevolg van die enorme aard van my onfiksheid. Buiten dit, was dit ʼn heerlike ervaring. Nie oor die vars lug of die endorfiene wat afgeskei is nie. Dit was heerlik want die pad was propvol mense wat dieselfde idee as ek gehad het. Soos wat ek verby die mense gedraf het, het 90% van hulle vir my geglimlag of gegroet. Toegegee, dit kon dalk gewees het omdat ek gedraf het soos ‘n blouwildebees wat gekwes is. Ek kies eerder om ‘n ander rede te sien.

Mense glimlag en groet omdat ons almal in daardie oomblik solidariteit met mekaar beleef. Ons maak almal in hierdie tyd groot opofferings. Ons is almal waarskynlik keelvol vir ons eie huise en in baie gevalle die absurde maatreëls wat op ons afgedwing word. Tog beur ons almal saam voort. Ons doen almal wat ons kan.  

Ek sien hierdie as ʼn kerneienskap van wat dit beteken om mens te wees. Daar is iets binne elke mens geplaas wat maak dat ons kan weerstand bied in moeilike tye. Daar is iets in die gees van die mens wat maak dat ons kan vasbyt. Hierdie gedeelde eienskap skep ʼn eenheid en ʼn solidariteit by ons. Daarom glimlag ons vir mekaar selfs al ken ons mekaar nie. Daarom moedig ons mekaar aan in moeilike tye. Daarom help ons mekaar waar ons kan. Want dit is wat die mens doen.

Toe grendeltyd begin, het iemand geskryf dat hierdie ‘n tyd is waar ons mense gaan leer ken soos wat hulle is. Jy gaan agterkom of jou kollega aan jou kant is. Jy gaan agterkom of jou vrou jou ondersteun. Jy gaan agterkom wie jou vriende is. Die artikel was eintlik bietjie negatief gewees maar daar is waarheid in. Ek het agtergekom hoe die mens is.

Niemand sou uitgegaan het as hulle nie hoop gehad het dat daar op een of ander stadium weer uitkoms sal wees nie.

Aan die begin van die Bybel lees ons dat die antieke mens hierdie bewustheid gehad het dat die mens anders is as die res van die skepping. Hierdie andersheid was nie as gevolg van intelligensie of vermoë nie. Dit was omdat slegs die mens geskep is na die beeld van God. Wat hierdie presies beteken, het verskillende interpretasies. Ek weet ook nie of ek ʼn sinvolle bydra kan lewer tot hierdie gesprek nie. Ek wonder net of ek nie die beeld van God sien wanneer ek vreemdelinge op die pad groet nie. Mense wat aanhou hoopvol is. Want God is altyd hoopvol as dit kom by sy kinders. Mense wat aanhou en vasbyt want God se genade en liefde ken ook nie ophou of tou opgooi nie. Mense wat smag na vryheid want God is ‘n God wat vrymaak en red.