Wysheid uit die Bergrede

Matteus 5-7
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Brian McClaren het 'n boek geskryf met die titel: "The secret message of Jesus". In hierdie boek bespreek hy die bekende eerste preek van Jesus - die Bergrede (Mat 5-7). Hy noem die preek Jesus se "manifesto" vir ons as gelowiges. Die preek som die etiek van 'n kind van die Here in drie hoofstukke op. Jy kan dit op 'n groot plakkaat druk en agter jou kamerdeur hang om jou elke dag te herinner hoe om te leef.

In kort worstel die mens nog altyd met drie groot sondes: geld, wellus en mag. Uiteindelik is die hart van al drie hierdie sondes selfsug. Dít is ten diepste ons grootste probleem: die eie ek. Die wil om myself te verhoog, te bevredig of te bevoordeel. Altyd ten koste van ander.

Jesus bied vir ons drie geloofsgewoontes as alternatiewe in die Bergrede aan. Vrygewigheid is die dissipline teen geldgierigheid. Vas is die alternatief op wellus. Gebed is die antwoord op mag (posisie).

As selfsug die basis is vir dit wat in die lewe mense op verkeerde paaie lei, is liefde Jesus se antwoord op wat jou werklik gelukkig maak.  

Krisistye bring óf die beste óf die slegste van mense na vore. Jy sien óf die vrug van selfsug uitspeel in magspel, wellus of geldgierigheid, óf jy sien wat liefde kan doen in 'n hopelose situasie.

Dit was nog altyd in die geskiedenis so. Dit gaan nou so wees. En dit sal in die toekoms weer gebeur. Dit is die mens.

Ek weet wat jy dink. Jy dink onmiddelik aan 'n paar mense wie op die oomblik goeie voorbeelde van hierdie selfsug is. Jy wil hulle graag blameer en uitwys. Hierdie denke, is ironies genoeg, ook die vrug van selfsug.

Kies 'n ander denkrigting, vra Jesus.

Die vrug van liefde is te sien in afhanklikheid, empatie, die maak van vrede. Dit is sigbaar in dié wat honger en dors na dit wat reg is, dié wat treur saam met die wat treur en in die sagmoediges. Jy vind dit in rein harte, barmhartige dade en die draai van 'n ander wang. Jy kry dit waar jy twee myle stap in plaas van een. Jy kry dit nie geskryf op Facebook of uitgebasuin op Whatsapp groepe nie.

Dit is nederig. Stil. Nader as wat jy dink.

Maar moet vir geen oomblik dink selfsug kan die krag van liefde oorweldig nie.

Niks is groter as die liefde nie.