Wees versigtig om ander te oordeel

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Dit is maklik om iets te lees en 'n verkeerde afleiding te maak. Dit is eenvoudig om op grond van jou opinie te blameer. Jy kan maklik, gebasseer op jou eie gebrekkige kennis, oordeel iemand anders is verkeerd. Jy lees een opiniestuk in die koerant en fel 'n oordeel. Jy kyk 'n ander televisieprogram en neem 'n besluit oor wat werklik die feite is. Jy lees jou Bybel op jou manier en sê iemand anders is nie ernstig oor die Woord nie. Jy luister na 'n president se toespraak en maak aannames. Jy weet mos beter.

Ons verstaan dit maklik wanneer ons langs 'n veld staan en die skeidsregter kritiseer. Ons maak maklik 'n grap oor die toeskouers wat almal dink hulle sou die span beter kon afrig.

Jesus leer ons in Matteus 7:1-5:
 
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. 3 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

Jesus leer ons om nederig te bly, selfs wanneer ons dink ons weet beter. Jesus leer ons om nie te oordeel nie, maar dit aan Hom oor te laat. Selfondersoek en selfinsig is 'n deugde. Ondersoek jouself, groei en maak 'n bydrae.

Daar is goeie maniere in die kerk om 'n broer of suster te help, raad te gee en met opbouende kritiek te bemoedig. Daar is sinvolle kanale om 'n bydrae te lewer tot publieke teologie (protes selfs). Die vraag sou wees - wat dryf jou? Die feit dat JY die punt maak, of die sinvolle bydrae wat jy werklik wil lewer.

Jesus sou sê: wees versigtig.