Probeer te wete kom

Efesiërs 5:10-20
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Dit is nie altyd maklik om die Here se wil te ken nie. Die skrywer van Efesiërs erken dit ook wanneer hy sê: “… probeer te wete kom wat die Here se wil is.” Vir ʼn kind van die Here is dit baie belangrik om die Here se wil te ken, want ons het in ons harte ʼn dringende begeerte om volgens die Here se wil te leef. Maar dit is dikwels makliker gesê as gedaan.

In vers 10 kry ons die opdrag: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is...”

Dit dui daarop dat ons voortdurend besig moet wees met die vraag na die wil van die Here. By al ons besluite en keuses, ons denke, handel en wandel, moet die deurslaggewende vraag wees: “Wat wil die Here dat ek moet doen”.

Vir party mense is hierdie ʼn maklike klinkklare saak. Die Bybel sê en ons moet doen. Dit is ook so dat ons wonderlike wysheid in die Bybel kan put wat maklik oordraagbaar is in ons eie kontekste. Dis dinge soos eerlikheid en deernis en barmhartigheid. Ek dink almal in die kerk is dit eens dat hierdie almal waardes is wat God van ons verwag om deel van ons lewens te maak.

Ongelukkig is daar ook baie ander sake wat nie noodwendig so maklik is om uit die Bybel te verklaar nie. Daarom is dit ook moeilik om die Here se wil daarrondom te bepaal. Moet ek nou inspring in ʼn geveg om die waarheid te probeer verdedig of moet ek probeer vrede maak en ʼn kompromie soek? God is tog ʼn God van waarheid en ʼn God van vrede.

Dis hier waar gelowiges saam die Heilige Gees moet vertrou. Tydens Pinkster erken ons die realiteit van die Heilige Gees in ons lewens.

Partykeer hoor ons die Heilige Gees se stem duidelik en dadelik. Ander kere het ons soms nodig om terug te staan, te reflekteer, te bid, voordat ons versigtig ons pad vorentoe vind. Dit is ook die woord wat in Efesiërs 5:15 gebruik word. “Wees baie versigtig hoe julle lewe.” Dit beteken dat ons dalk meer doelbewus moet lewe. Dit beteken dat ons dalk deeglik moet dink voor ons optree; voor ons kritiseer of prys.

Dalk kan dit ons help om “te wete te kom wat die Here wil dat julle moet doen” (vers 17)