Word weer vir Jesus lief!

Openbaring 2:1-7
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Ons het al baie in die gemeente oor die stad Efese vertel. Die stad was bekend as 'n hawestad. Daar was ongeveer 250 000 inwoners in Efese en die stad het toegang tot Asië verleen. Een van die bekendste tempels van die antieke tyd was in Efese geleë. Die tempel van Artemis was die baken vir die Artemiaanse godsdiens. Die meeste inwoners het Artemis aanbid.

In hierdie stad was daar ook 'n ander groep gelowiges wat al vir 'n geruime tyd vir Jesus gevolg het. Paulus het hulle ook meer as een keer besoek. Teen die tyd wat ons hier in Openbaring van hulle lees, kon die gemeente al 40 jaar oud gewees het.

Ons lees in hoofstuk 2 van Openbaring die brief aan hierdie gemeente. In hierdie brief word die gemeente geluk gewens dat hulle volhard het en dat die waarheid vir hulle so belangrik is. Hulle het ondersoeke ingestel om uit te wys wie praat nie die waarheid nie. Hulle het hard gewerk en baie gedoen vir die evangelie.

Maar Christus sê vir die gemeente: "Julle het My nie meer so lief soos in die begin nie". In die ou vertaling lees ons: "Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het”.

Dit help nie jy staan op vir die waarheid en voer 'n kruistog namens die evangelie, maar jy het nie meer vir Jesus so lief soos aan die begin nie.

Wat beteken dit?

Bavinck beskryf dit baie mooi: “Die gemeente het nie meer vir Jesus helder voor hulle gesien nie. Hulle het hulle uitsig op die kruis verloor. Hulle gebede het verskraal, hulle omgang met die Here was uitgehol, hulle blydskap in die Here amper dood. Daar het iets gestrengd, iets byna hard in hul oë gekom.” Ons sien in die Bavinck aanhaling ook die verband tussen die twee sake. As ons Jesus nie meer helder sien nie, verloor ons ons sagtheid; ons word hard en meedoënloos en ons slaan mense met die waarheid sonder dat dit vir ons te swaar is. (Coenie Burger).

Daar is ook 'n dieper les in hierdie brief. Hierdie lesers is Christene wat reeds in Jesus glo. Hulle het reeds "tot bekering gekom". Tog vra Christus weer van hulle bekering? Dit het nie met die "hoor van die evangelie" of hulle "verlossing" te doen nie. Dit het met veel meer te doen.

Bekering is nie net 'n eenmalige gebeurtenis nie. Ons moet onsself gereeld "bekeer". Ons moet gereeld weer vir Jesus lief raak, opgewonde raak oor die evangelie en nie vasgevang word in die wette, die waarheid en 'n hardheid teenoor ander nie.

Die goeie nuus is dat die Here ons kan help om te verander – as ons kan hoor wat die Gees vir ons sê. As jy jou "eerste liefde" verloor het, nie meer sag is teenoor alle mense nie en "hard" geword het, is daar altyd 'n geleentheid om verander te word.

Stel jouself oop vir God se Gees wat met jou wil werk.