Die "kruks" van die saak

Geskryf deur ds. Karin Steyn

Ons hoor dikwels in gesprekke die opmerking: "die kruks van die saak". Die woord "kruks" kom van Latyns en beteken eintlik "kruis". Nou hoekom is die woord kruis gebruik in gesprekke waar ons wil uitkom by die kern van 'n saak of anders gestel by die kritiese punt of tydstip?

Ek dink dis omdat die kruis regtig die kruks in die geskiedenis is. Sonder die kruis kan geskiedenis nie gedefinieer of gekorrigeer word nie. Selfs ons kalenders praat van voor Christus en na Christus.

Deur die jare van menslike ervarings staan die kruis sentraal in ons verstaansraamwerk. Ons kan eitlik praat van voor die kruis of na die kruis. Anders gestel, voor Jesus in my lewe gekom het en na Jesus in my lewe 'n plek gekry het. Voor ek genade verstaan het en na ek genade leer ken het.

Jesus klim in ons storie in en die prentjie verander. Die manier hoe ons dit vertel en ervaar word beïnvloed. Daar is 'n HOOP wat ons leer ken. Hierdie HOOP maak ons rustig vir hoe ons storie eindig.

Dit laat my dink aan ons huidige omstandighede van uitgerekte onsekerheid. Die gevoel dat ons nie net onseker is nie, maar eintlik nie weet wanneer die onsekerheid gaan weggaan nie. Nou wil ek in die tyd waarin ons staan kom vra: Wat is die kruks van die saak? Watter invloed het die kruis as ons dit 'n plek kon gee in die Covid 19-reis waarmee ons tans besig is?

Dalk, as ons die kruis 'n plek gee, praat ons anders oor ons bekommernisse. Verstaan ek dalk hoekom ek in 'n tyd soos die moet leef. Kom ons gee God 'n plek om die Bybel verder te skryf deur ons lewens.

Mag jy, as jy die kruis 'n plek gee in jou lewe, aanhou droom. Droom oor jou besigheid na Covid 19. Droom oor jou eerste kuier saam met jou familie. Droom oor normale beweegbaarheid. Droom oor jou kinders wat weer kan deelneem aan sport. Mag jy droom oor 'n tyd wanneer jy veilig uit jou huis kan beweeg. Dit is die opgestane Here aan wie se kruis ons vashou. So, die kruks van die saak is - ons mag maar DROOM!