'n Nuwe manier van doen

Kolossense 1:9-10
Geskryf deur ds. Karin Steyn

As daar een ding is waarvan ons in die pandemie bewus geword het, is dit dat ons nie kan terugkeer en net weer doen en dink soos voorheen nie. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het reeds gesê daar is 'n krisis rondom die hoeveelheid mense wat met hipertensie, angstigheid en depressie leef. Die pandemie het ons nou kom dwing om anders te doen en te dink al was daar voor die pandemie reeds groot bewyse dat verandering nodig is. Hierdie omstandighede het my die week laat dink aan hoe ons wêreld anders kan lyk en dink. Die woorde van die jong Amerikaanse sendeling, Karen Watson, wat sy vir haar predikant geskryf het en later by haar begrafnis voorgelees is na sy in Irak vermoor is, kan nou vir ons ook baie beteken: "Gee meer om as wat mense dink wys is. Waag meer as wat ander mense dink veilig is. Droom meer as wat prakties is, en verwag meer as wat moontlik is." Wat 'n treffende credo vir die tyd waarin ons leef!

Ons lewe word van binnekant af gevorm en dan leef ons dit uit. Wanneer ons konneksie verloor met onsself maak ons wêreld nie meer sin nie. Paulus verwoord dit so mooi met die woorde: "Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal kan lewe en net doen wat Hy verlang." Kol 1:9-10. Dit bly 'n uitdaging vir ons as gelowiges om God se wil in ons wêreld reg te verstaan en te kan raaksien. Mag God jou lei binne jou spesifieke omstandighede om met oortuiging te kan weet wat sy wil en plan vir jou lewe is, in en na die pandemie.

Ek los julle met die woorde van Henry Miller: "One's destination is never a place, but rather a new way of looking at things"