Wees lief vir mekaar

Prediker 4: 9-10
Geskryf deur ds. Karin Steyn

As daar een ding is waarvan ek diep bewus geword het in die grendeltyd is dit hoe belangrik verhoudings is. Die oomblik toe ons lewens gaan stil staan het en ons beweeglikheid weggevat is, het meeste van ons kontak met ander mense die meeste gemis. Ek hoor hoe die ouma's en oupa's in ons gemeente sê dat hulle vreeslik verlang na hulle kleinkinders. Ek hoor die mamma's vertel dat hulle daardie koffiekuier saam met 'n vriendin nodig het, om haar net weer krag te gee vir alles. Ek hoor hoe graag families net weer saam wil braai en kuier! En ek onthou al die mooi stories wat in die aftree-oorde vir my vertel word van hoe verhoudings mense deur die donkerste en moeilikste tye kan dra. In my eie hart voel ek met elke foto’tjie en boodskap van familie en vriende af, dat ek so graag net weer by hulle wil wees...ons almal verlang baie!

Ek glo dat die Here ons vir verhoudings gemaak het. Diep verhoudings. Verskillende tipe verhoudings. Daarom is Prediker 4: 9-10 vandag vir my waardevol wat sê: "Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie."

Henri Nouwen skryf so mooi: "They also have become new friend for each other - no longer people who can offer each other consolation and support as they mourn their losses, but people with a new mission who, together, have something to say, something important, something urgent, something that cannot remain hidden, something that must be proclaimed."

Sy woorde herinner my daaraan dat alle verhoudings ook groei en ontwikkel. Dat ons die mooiste storie van ons lewe saam kan skryf. Wat gebeur in jou hart oor jou verhoudings? Wat kan jy in jou omstandighede doen om aan jou verhoudings te werk? Of om uit te reik na jou mense toe? Dalk werk die Here ook in jou hart oor 'n spesifieke verhouding waarna nuut gekyk moet word. Mag jy getrou wees aan sy stem in jou lewe en mag jy iets van Hom raaksien in al jou mense!

"How lucky am I to have something (someone) that makes saying goodbye so hard." - Winnie the Pooh