'n Omgekeerde wêreld


Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Die Saligsprekinge beteken persoonlik baie vir my. Dit is die opening van die Bergrede. Dit is 'n inleiding tot Jesus se verstaan van hoe die koninkryk van God werk. En dit keer alles om.

Ons vind die bekende woorde in Matteus 5:
 
3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”
 
Jesus beskryf 'n ander tipe wêreld. Dit is nie 'n wêreld waarin onafhanklikheid, blydskap, selfgesentreerdheid, ongeregtigheid en konflik jou gelukkig maak nie. Ons dink om "bo" te kom en om "alles in die lewe te bereik" is wat jou werklik gelukkig maak. Ons dink dit is wat seën beteken. Maar hopelik het jy nou al geleer dit is nie waar nie. Dit is nie rykdom en suksus wat 'n mens werklik gelukkig maak nie. Dit is nie om 'n argument of 'n oorlog te wen nie. Dit is nie om toe te kyk hoe ander mense honger ly en self kos te hê nie.

Ons sê so maklik ons is nie gelukkig nie. Dalk is dit omrede jy geluk in die verkeerde dinge soek. Jy besef nie eers wat jy die heeltyd najaag nie. Jy soek 'n geluk wat jy nooit gaan vind in dít nie.

Om werklik gelukkig te wees is om die geheim van God se koninkryk te ontdek: om te waag om die waardes van hierdie wêreld op sy kop te draai.

Kyk wat gebeur as jy Jesus se voorbeeld volg en 'n nuwe denkrigting inslaan. Dalk ontdek jy wat ware geluk beteken.