Waarvoor is jy bang?

Psalm 66: 7,9
Geskryf deur ds. Karin Steyn

"So sterk is die Here dat Hy altyd in beheer van sake is. Hy gee aan ons lewe. Hy sorg dat niks ons onderkry nie."  - Psalm 66: 7,9 Die Boodskap

"Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie."  -Johannes 14:27

“Moenie bang wees nie” is goeie raad. Dit is die raad wat ouers aan hulle kinders gee as hulle nie alleen in die donker wil slaap nie. Kinders se eerste skooldag is dikwels die bewys van hoe maklik die trane vloei wanneer die bekende vir die onbekende verruil word. Ongelukkig is dit nie veel anders wanneer ons ons kinderjare agterlaat nie. Vrees vir die onbekende gryp ons steeds aan die hart en verlam ons denke. Hoe ouer ons word, hoe meer reseptors vir vrees ontwikkel ons in ons brein. Ons leer onsself om banger te word namate ons ouer word. Hoe meer ons vrees probeer beveg deur dit te onderdruk of te ontken, hoe sterker groei dit in ons onderbewussyn.

Van die week af is ons op vlak 3 en begin ons wêreld al meer beweeg om ons. Watter emosies en gevoelens veroorsaak dit by jou? Party van ons antwoord: uiteindelik kan ons weer begin! Maar tog voel die "weer" begin nie soos voorheen nie. Ander sê: ek is nou eers bekommerd dat iemand vir wie ek lief is, dalk kan blootgestel word en aansteek. Kinders is teleurgesteld dat hulle nogsteeds nie kan skool toe gaan nie. Die 60 plus groep wonder of hulle die kans kan vat om weer te begin werk. Oumense wonder wanneer hulle weer hulle kleinkinders gaan sien. In ons almal is daar onsekerheid. Mense reageer verskillend in hierdie situasies, maar kenners sê daar is een van drie maniere wat jy optree: Jy vries, jy veg of jy vlug. Watter een sien jy in jouself raak?

Dr. John Gosling (Psigiater) meld in Beeld van 20 Maart 2020 dat, naas die Corona-pandemie, ’n pandemie van vrees by ons mense ontwikkel het. Vrees verlam mense. Vrees en angs inhibeer ons vermoë om kreatief te wees of enige hoop raak te sien.

In die Bergpredikasie (Matteus 6:25-34) sê die Here dat ons, ons nie moet kwel oor ons omstandighede nie, maar dat ons elke dag in God moet glo en op Hom moet vertrou. 'n Mens moet nooit die negatiewe invloed van ons vrese onderskat nie. Ons moet hulle oorwin voordat hulle verskriklike nagmerries word. Deur ons te leer dat ons, ons nie moet kwel nie, nooi die Here ons uit om deur ons verhouding met Hom, verby ons vrees en angs te kyk. Ons Vader het ons lief. Ons is kosbaar in sy aangesig en Hy sal in al ons behoeftes voorsien. Laat ons Hom elke dag volkome dien en aanbid. As ons dit doen, sal ons vrese, soos ons geloof toeneem, begin verdwyn en sy liefde sal in ons harte heers.

Reg deur die Bybel weerklink die oproep soos 'n refrein: "Moenie vrees nie." Wanneer ons glo dat God in beheer is, al gebeur daar dinge wat ons nie verstaan nie of wil aanvaar nie. Maak daardie geloof dit vir ons moontlik om ten spyte van ons krisis nie paniekerig te raak nie, maar steeds in God se vrede te bly.  

Mag God julle lewe met sy teenwoordigheid oorspoel, sodat daar nie ’n stukkie van julle lewe is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie (Ef 3:19, Die Boodskap).