'n Digitale oorlog

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Is jy ook al tegnologies uitgeput?

Alles gebeur aanlyn. Ons spandeer 'n oordrewe aantal ure oor 'n skerm. Vergaderings word nou op ZOOM of TEAMS gehou. Kuiers vind plaas oor Facetime of Whatsapp Video Call. Ons braai, kerk, gesels, leef en werk - aanlyn!

Dan is daar aanhoudende Whatsapp groepe en boodskappe. Jy word oorval deur dieselfde grappe, videos, boodskappe, staatskoerant publikasies, skermgrepe van koerantopskrifte en eindtyd propoganda. Jy word gebombardeer met dieselfde inligting en inhoud op meer as een groep. En soms gelyk!

En deesdae is daar mos 'n Whatsapp groep vir elke aspek van jou lewe: skool, sport, die area of kompleks waarin jy bly, ouerskap, familie, vriende, klubs, vakansies, partytjies, belangstellings en stokperdjies. Etiek op hierdie groepe kan beleefd wees. In sommige gevalle kry mense dit reg om goeie en nodige inligting te deel. Gereeld is hierdie egter 'n broeiplek vir konflik, kritiek en onvanpaste kommentaar. Dit is mos lekker om die onderwyser te kritisieer of vinnig jou opinie oor die stand van sake te deel.
 
Daar is 'n nuwe oorlog vir jou tyd. Een van die wapens in hierdie oorlog is digitale geraas. Ons sal moet leer om te verdedig en grense te stel.
 
Die digitale oorlog het 'n konteks. Tot onlangs was dit moeilik om rolle en grense uit mekaar te hou. Jou huis is jou werkplek, jou blyblek en jou ontspanplek. In dieselfde spasie is jy dalk 'n werknemer, werkgewer, ouer, huweliksmaat, individu en 'n versorger. Persoonlike grense word van alle kante aangeval. Sonder dat jy besef skep dit baie spanning.

Die Bybel ken nie tegnologie, digitale geraas, die sielkunde van verskillende rolle (dalk 'n bietjie) en die komplekse konteks van ons lewens nie. Maar Jesus het grense getrek:

"Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid."(Lukas 5:16)

Nuwe kontekste daag ons uit om nuut oor persoonlike grense en spasie te dink. Jy moet leer om jouself op te pas. Elke mens het nodig om in verskillende spasies en rolle gesond te funksioneer. Die vermenging van hierdie rolle en spasies in die konteks van 'n digitale wêreld veroorsaak onbewuste innerlike konflik.

Nou meer as ooit is dit nodig om stil te word, af te sonder en grense te trek:

- Verminder die digitale geraas in jou lewe.
- Reflekteer oor jou rolle en spasies - bestuur dit beter.
- Spandeer tyd in stilte, in afsondering, saam met jouself en die Here.
- Trek grense en moenie bang wees om dit beleefd te kommunikeer nie.
- Neem soms 'n "digitale vakansie".
- Fokus op die oomblik.
- Bekommer net oor vandag.

Daar is wel een uitsondering. Daar is mense wat nie werk nie, wat alleen is en geen ander vorm van kontak het as deur sosiale media nie. Hierdie is 'n goeie voorbeeld van hoe tegnologie ons juis help om te ondersteun.

Die realiteit is dat 'n digitale wêreld deel van ons lewens is. Daar is natuurlik ook voordele daaraan verbonde. Ons moet dit almal binne perke benut.

Die antwoord lê altyd in goeie balans.