Staan op

Jona 1:1-17
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

So wonderlik as wat die Afrikaanse vertalings van die Bybel is, is dit egter ook so dat daar soms met ‘n vertaling iets van die skrywer se oorspronklike skryfstyl verlore gaan. In Jona kry ons ‘n goeie voorbeeld hiervan.

In Jona 1:2 gee God die opdrag aan Jona: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is”. Die woorde wat ons vertaal met “maak klaar” is in die Hebreeuse taal letterlik “staan op”.

Jona ignoreer hierdie opdrag soos sommige mense die spoedhobbels voor die kerk ignoreer. Jona besluit om presies die teenoorgestelde rigting in te vlug. Hy doen dit ook met goeie rede. Nineve was ‘n stad in Assirië en die Assiriërs was aartsvyande van die Israeliete. Hulle het die noorde van Israel platgevee met hulle weermag en duisende Israeliete in ballingskap weggevoer terwyl hulle dan hulle eie mans laat agterbly het om die Israelitiese vrouens vir hulself te vat en so hul eie mag uit te bou. Geen Hebreër wat by sy sinne was, sou enige iets met Nineve te doen wou gehad het nie.

Terwyl Jona dan vlug van die Here (wat hemel, see en aarde gemaak het – sien tog asseblief die ironie hier) ontstaan daar ʼn groot storm. Uiteindelik nader die skip se kaptein vir Jona met die woorde: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.” (Jona 2:6) Die herhaling van hierdie Hebreeuse frase is baie duidelik deel van die skrywer se tegniek. Die skrywer probeer dit duidelik maak dat jy nie van God kan weghardloop nie.

Deur dieselfde woorde wat God gebruik het in vers 2 nou in ‘n heidense seekaptein se mond te plaas, maak die skrywer ‘n baie sterk punt. God het alles gemaak. God is oral. God is in die kerk maar God is ook buite die kerk. God is in ons huise, maar God loop ook op straat rond. God is in die rustige Sondagmiddagete, maar net soveel in die chaotiese roetine wanneer ek my kinders in die bed probeer kry. Soms is God se stem te hore selfs deur iemand wat nog geen kennis van God het nie.

Waar hoor jy vandag God se stem? Wat vra God vandag van ons? Is jy bereid om jou grootste vyand in die oë te kyk en God se genade aan hulle te verkondig? Jona was aanvanklik nie bereid om dit te doen nie. Maar van die Here kom jy nie so maklik weg nie. Daardie stemmetjie gaan aanhou praat, selfs daar waar jy dit die minste verwag.