Dit waaraan ek dink

Geskryf deur ds. Karin Steyn

Jou kop is eksklusief. Dis spesiaal vir jou ontwerp. Nes jou vingerafdruk is dit uniek. Niemand dink, sien en ervaar presies soos jy nie. Die Here het wel nie jou kop ontwerp om staties te wees nie, maar om aanhoudend te leer. Tog leef ons soms só. In realiteit is ons nie ‘n slagoffer van ons brein wat in sement gegiet is nie. Met ander woorde jy is nie so gemaak en so laat staan nie. Hierdie belangrike feit plaas jou wel voor twee lewenslange uitdagings:

- Jou verantwoordelikheid om reg te dink en

- Jou verantwoordelikheid om jou emosies op ‘n gesonde manier te ervaar.

Neoroplastisiteit is die kenmerk van die volwasse brein. Dit beteken dat jou brein steeds elke dag, maak nie saak hoe jonk of oud jy is nie, nuwe paadjies maak. Hoe wonderlik is dit nie! Hoe meer ons uitvind oor die mens, hoe meer staan ons verstom oor hoe wonderlik ons gemaak is.

 In 2 Kor. 10:4-5 sê Paulus dat jy jou gedagtes gevange moet neem en diensbaar maak vir Christus.

 Efes. 4: 17-19 skryf Paulus dat daar in hulle koppe niks goed gebeur nie.

As ek so na Paulus se woorde luister, besef ek dis nie genoeg dat ons net ons HART vir die Here gee nie, Hy vra ook ons KOP. Was jy al ooit in ‘n erediens wat vra dat jy jou KOP ook vir die Here gee?! Selde ...

Dit is soms vir gelowiges makliker om nooit hulle kop voluit te gebruik op geloofsgebied nie. Dan sê ons: “Ek glo soos ‘n kind”. Die blote feit dat jy ‘n Christen is, gaan nie jou manier van dink en voel outomaties verander nie. Tog is dit waar dat toe Christus jou syne gemaak het, Hy jou van kop tot tone syne gemaak het - 2 Kor. 5 en Gal. 6. Om tot bekering te kom (Metanoia in Grieks) wat gereeld in ons lewens gebeur, is ‘n nuwe hart wat anders voel, maar dis ook 'n nuwe kop wat op nuwe maniere dink. Dis die oorgang na ‘n nuwe manier van lewe.

Die neurowetenskappe sê vir ons dat dit waarop jy fokus, groter word. Dit word jou realiteit. Dit word die waarheid wat jy heeltyd vir jouself vertel. Ek het die week daarvan bewus geword dat die Bybel ook met ons gesels oor hoe om met ons kop en emosies te werk nog lank voor ons al die wonderlike wetenskapkennis oor ons breinfunksies gehad het. Die Bybel vertel ons al lankal van die manier van leef.

Mag jy daar waar jy leef en beweeg, ook weer opnuut bewus word van hoe jou gedagtes en optrede moet lyk as jy getuig dat Hy in jou hart woon.