Oorlog in die hart

Psalm 55
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Sosiale media het baie voordele. Dit is ‘n manier waarop enige een van ons ‘n stem kan inkry. Dit is ‘n manier waarop ons nuus kan oordra en op datum kan wees met die nuutste verwikkelinge. Dis ‘n plek waar ons kan deel in vreugde en hartseer. Ongelukkig het sosiale media ook ‘n donker kant. Dit het die vermoë om selfs die mooiste intensies te verdraai en haat aan te vuur. Dit gee mense meer as ooit die vermoë om te ‘praat’ voordat jy gedink het of die waarheid ondersoek het. Dan word sosiale media giftig.

Dink aan daardie Whatsapp wat vir jou aangestuur is oor ‘n kind se kunswerk, of dink aan al die kommentare wat mens kan lees op Netwerk 24. Facebook en Instagram brand op die oomblik oor die rassespanning regoor die wêreld. Dit voel nou vir my asof elke persoon voel dis nodig (en dit maak ‘n verskil?) as hulle hul eie opinie met die wêreld deel. Dalk is dit nodig. Tyd sal ons seker leer.

My ervaring is egter dat haat aangevuur word eerder as om opgelos te word. Selfs mense wat “vriende” was, staan dikwels op teenoorgestelde kante van die debat. Tog het ek nog nie een persoon ontmoet wat oortuig is van ‘n teenoorgestelde standpunt as gevolg van ‘n boodskap op sosiale media nie.

Psalm 55 vertel ook van ‘n vriendskap wat sleg uitgedraai het (vers 13-14). Jy kan as’t ware die verwerping en teleurstelling van die digter aanvoel. Hierdie keer is dit sy eie vriend. Waarskynlik kan almal van ons hiermee identifiseer. Wie is nie al deur ‘n vriend verraai of teleurgestel nie? Ons lees hoe dit die digter se wêreld op sy kop draai. Hy beskryf chaos op die markplein. Hy skilder geweld, oproer, onreg, ‘n rustelose massa, wanorde en verdrukking. Klink dit dalk bekend? Die woorde wat spesifiek vir my uitgestaan het, is vers 22.

“Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde wat reg is om te steek.”

Ek wonder hoeveel van ons loop as gevolg van seerkry in die verlede met oorlog in ons harte rond. Ons steek dit mooi weg vir ‘n hele ruk, maar sodra die eerste skoot klap, spring ons in die voorste linies in. Die wyse waarop die digter hierdie situasie hanteer, is daarom vir ons belangrik. “Laat jou sorge aan die Here oor” (Vers 23).

Ons taak as gelowiges is nie om haat met haat te antwoord nie. Ons kan ongeregtigheid en ongelykheid nie goedkeur nie. Maar die manier waarop ons dit doen, is minstens net so belangrik. Die wyse waarop ons dit doen, behoort in dieselfde gees te wees as die Psalm se laaste woorde.
“Maar ek, op U vertrou ek.”