In die Seun en die Vader

1 Johannes 2:18-27
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Hierdie uitdrukking “in die Seun” of “in die Vader” vind ons baie in die Nuwe Testament. Jesus gebruik dit self in Johannes 15:4. Ook Paulus gebruik hierdie term en Johannes gebruik dit graag in sy briewe.

Hierdie terme is ‘n aanduiding van die intense, naby verhouding wat daar tussen die Here en gelowiges is. God ken ons immers baie intiem. Ons lewe is ‘n oop boek voor Hom. So vertrou gelowiges God ook. Ons maak ons harte oop vir Hom, deel ons sondes, geheime, nood en hartseer met God. Gelowiges leef met die Vader, die Seun en die Heilige Gees op ‘n baie intieme, vertroulike vlak.

Regdeur die Bybel is dit duidelik dat gelowiges baie deeglik bewus is van hierdie konneksie tussen God en mekaar onderling. Dit is in ‘n sekere sin ook presies wat die evangelie van Jesus Christus bevestig. Jesus het juis gekom om te wys hoe naby die koninkryk van God werklik is. Maar dit is ook iets wat ons vandag aktief moet uitleef en bevestig. Dit is slegs deur ons geloof uit te leef wat ons bewus is van hierdie konneksie.

Die skrywer van hierdie brief weet egter dat dit nie altyd vir gelowiges so voel nie. Daar was waarskynlik ernstige onmin en verskeurdheid in die geloofsgemeenskap aan wie hierdie brief gerig is. Daarom vertroos die skrywer die kerk met die wete dat die Gees ook in hulle is.

Op hierdie oomblik is onmin en verskeurdheid net soveel deel van ons lewens as wat dit 2000 terug was. Ons is dikwels aan teenoorgestelde kante van die politieke en ekonomiese spektrum. Die wyse waarop ons dink oor die land en die toekoms staan dikwels teenoor mekaar. Hoe ons in hierdie uiters moeilike tye dink oor die handhawing van maatreëls en regulasies is dikwels uiteenlopend.

Daarom moet ons die woorde van hierdie brief ter harte neem. Hier gaan dit nie oor ʼn kognitiewe bevestiging van die Seunskap van Jesus nie. Dit gaan oor ʼn volkome oorgawe aan die wil van God. Binne die konteks van hierdie brief gaan dit gepaard met gehoorsaamheid aan die grootste gebod. “Wie sy broer lief het, bly in die lig”(1 Joh 2:10).

Mag ons liefde vir mekaar toeneem sodat ons begrip van God ook kan toeneem.
Mag God op hierdie manier sigbaar word in ‘n wêreld wat smag na die lig in donker tye.