Geregtigheid

Lukas 18:6-8
Geskryf deur ds. Karin Steyn

Hierdie woorde van Henri Nouwen:

"We are called to follow Jesus not only into the desert and onto the mountain to pray, but also into the valley of tears, where help is needed and onto the cross, where humanity is in agony."

Tesame met Lukas 18:6-8 in die Message Bible:

"Then the Master said, “Do you hear what that judge, corrupt as he is, is saying? So what makes you think God won’t step in and work justice for his chosen people, who continue to cry out for help? Won’t he stick up for them? I assure you, he will. He will not drag his feet. But how much of that kind of persistent faith will the Son of Man find on the earth when he returns?”

So baie van wat tans regoor die wêreld gesels word, kan teruggetrek word na die narratiewe, die sterk stories wat ons lewens vorm. Sommige kere is dit goed en ander kere weer sleg. Met alles wat in die nuus en regoor die wêreld gebeur, is dit pal in my gedagtes. In die gelykenis is daar twee karakters, naamlik die onregverdige regter (nou moet ons onthou dat ‘n regter ‘n man van hoë aansien en baie mag in die samelewing was) en die weduwee (as ‘n vrou wie se man oorlede is, het sy geen aansien gehad nie en daar was niemand om vir haar regte op te kom nie; sy was as randfiguur aangewese op die genade van ander mense). Hierdie vrou is te nagekom en sy het haar op die regverdige uitspraak van die regter beroep. Hy het hom egter nie aan God of mens gesteur nie en geweier om haar te help. Maar die weduwee het nie moed opgegee nie. Sy het weer en weer en weer teruggegaan na die regter toe totdat hy later so moedeloos was met haar knaende geneul in sy ore dat hy toegegee het aan haar versoek en haar gehelp het in haar regsaak.

Waar Jesus in hoofstuk 16 die gelykenis van die oneerlike bestuurder vertel het, vertel Hy hier in hoofstuk 18 die gelykenis van die onregverdige regter. In beide gevalle word dieselfde byvoeglike naamwoord gebruik – adikia – om die persone te beskrywe, wat onderskeidelik die betekenis dra van oneerlik (bestuurder) en onregverdig (regter). Jesus spoor sy dissipels in die gelykenis aan om aan te hou vrae vra waar hulle ongeregtigheid raaksien. Maar om ook saam met die vrae aan te hou bid. Die Godsbeeld wat Jesus hier teken, is van ‘n God wat nie slaap nie. Die vraag is dus nie of God sal optree nie – Hy sal.  Die vraag is of die dissipels (en ons) met dié geloof sal lewe en sal volhard, dag en nag, in gebed tot God.

Hierdie gedeelte in Lukas begin met die woorde, 'dat Jesus vir hulle die gelykenis vertel het sodat hulle nooit moedeloos moet word nie'. Maar Hy vra ook dat ons nie sal toelaat dat die wêreld ons GELOOF en HOOP kom steel nie. Mag ons ook daarteen waak dat die wêreld, koerante, mense se opinies en sosiale media nie ons GELOOF en HOOP kom steel nie.

Mag ons geregtigheid soek, maar dit ook wys oral waar ons kom.