Kerk en staat

Handelinge 10:1-48
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Ek het al gereeld gehoor hoe daar mense is wat sê kerk en politiek moet  van mekaar geskei word. Vanweë ons gekompliseerde geskiedenis en die wisselende verhouding tussen kerk en staat is dit sekerlik te verstane dat mense versigtig is om die twee met mekaar te vermeng. Die kerk dien tog ʼn ander Koning en moet daarom krities staan teenoor die staat.

Dit beteken egter nie dat die kerk nie ʼn politieke stem moet hê nie. Inteendeel, dit beteken die kerk moet meer van ʼn politieke stem hê. Iemand sê Jesus het geen politieke uitsprake gemaak nie, maar wel geestelike uitsprake. By die aanhoor hiervan het ek onbedaarlik begin lag. Mens sou selfs kon argumenteer dat al Jesus se uitsprake politieke dimensies gehad het. Elke keer wanneer die woorde “koninkryk van God” gebruik is, was dit ʼn politieke stelling want daarmee kontrasteer Jesus God se koninkryk met die Romeinse koninkryk.

Dis ook duidelik dat die apostels in hierdie selfde tradisie volg. Indien ons so na Handelinge 10 kyk is daar baie dinge wat agter die teks staan wat ons dalk mis lees. Hierdie verhaal speel af in Sesarea, vernoem na die Keiser Augustus. Augustus was die eerste keiser wat burgers verplig het om hom as god te aanbid. Hy was bekend daarvoor dat hy die blye boodskappe (evangelies) van vrede en voorspoed gebring het. Vrede wat deur magtige Romeinse weermag afgedwing is deur geweld. Ietwat van ʼn teenstrydigheid, veral as jy nie ʼn Romeinse burger was nie. ʼn Romeinse offisier was die verteenwoordiger van hierdie politieke sisteem en was verantwoordelik daarvoor om volledig aan hierdie sisteem onderdanig te wees. Sy taak was om al die nasies onder een keiser te bring.

As jy dit in gedagte hou het die woorde van Petrus ontsettende politieke implikasie.

“Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal” (vers 36)

Petrus maak dit duidelik: Daar is net een blye boodskap: Dis die evangelie van Jesus Christus, nie die blye boodskap van die keiser nie. Jesus Christus bring ware vrede, nie die keiser nie. Jesus Christus is Here van almal, nie die keiser nie.

Vir ons beteken dit dat elke gelowige daagliks moet vra wat God se wil is vir ons. Soms is dit binne regulasies, ander kere nie. Elkeen van ons moet self in ons eie omstandighede daardie onderskeiding maak. Soms beteken dit dat ons ons eie gemak en behoeftes moet opoffer ter wille van ander. Dit beteken soms dat ons bietjie dapper sal wees en vasbyt deur mense op ʼn  afstand te hou. Ander kere verwag dit weer van ons om reëls te buig of selfs te breek. Die enigste vraag is of ons daardie besluit maak omdat Jesus Christus die Here oor ons is of omdat iets of iemand anders oor ons heer speel.