Julle mag nooit daarna teruggaan nie

Deuteronomium 17:14-20
Geskryf deur ds. Wouter van Wyk

Terugkyk hou ook maar sy gevare in. Dit is wat hierdie gedeelte in Deuteronomium 17 ook leer. Dit is so ‘n vreemde amper weglaatbare teksgedeelte, maar dit leer ons baie van Israel se identiteit. Deuteronomium is deel van die Pentateuch (die eerste 5 boeke van die Bybel) wat die storie vertel van Israel se bevryding uit slawerny. Israel moes leer om hulself nie meer as slawe te sien nie. Hulle moes leer om die jare se onderdrukking agter hulle te sit en saam te bou aan ‘n nuwe toekoms. ‘n Toekoms saam met God.

Hierdie is natuurlik makliker gesê as gedaan. Want die mens het maar ‘n geneigdheid om terug te gaan na dit wat jy ken. Selfs al is dit wat jy ken nie goed vir jou nie. Tog beklemtoon Deuteronomium dit dat Israel anders moet wees. Wanneer die skrywer oor die koning praat maak hy ‘n baie interessante verbod. Die koning mag nie perde by Egipte koop nie. Dit is ‘n baie vreemde verbod. Wat maak Egipte se perde so sleg of verkeerd?

Maar die volgende sin verklaar dat dit nie regtig oor die perde gegaan het nie. Dit het daaroor gegaan dat God nie wou hê hulle moes teruggaan Egipte toe nie (vers 16). Nie omdat Egipte se perde ‘n probleem is nie, maar omdat Israel daardie hoofstuk van hul geskiedenis moet afsluit.

Ons kan baie maklik hiermee identifiseer. Dit gebeur heeltemal te gereeld dat ons wegbeweeg uit ‘n plek wat sleg is vir ons, maar net om kort voor lank weer daar terug te wees. Menigte verhoudings getuig hiervan. Of dalk het jy juis van werk verander om ‘n meer gebalanseerde lewe te leef maar na ‘n paar maande is jy maar in dieselfde patrone. Of dalk sukkel jy met verslawing van een of ander aard. Alles gaan goed vir ‘n ruk maar die oomblik as iets skeef loop dan soek jy weer daardie ding wat jou senuwees kalmeer.

God roep ons egter om vorentoe te kyk sonder om van die geskiedenis te vergeet. Hierdie verhaal is waarskynlik neergeskryf in die tyd terwyl Israel in ballingskap gesit het. Dit is in hierdie tyd wat hulle teruggekyk het na alles wat gelei het daartoe dat hulle in ballingskap gesit het. Hulle het weer besef hulle het slawe geword, die keer van ‘n ander nasie. Maar vasbeslote om uit hulle foute te leer het hulle hierdie verhale neergeskryf vir volgende geslagte. So leer hulle uit hulle foute en kry die hede ook meer betekenis.
God het hulle uiteindelik ook bevry van daardie vorm van slawerny want God is ‘n God van bevryding. Dit is wat God doen. Hy maak ons vry en dit is iets wat God ook oor en oor in die geskiedenis doen. Dit is uiteindelik wat Jesus Christus finaal aan die kruis vir ons doen.

Mag jy ook terugkyk maar leer uit jou foute. Mag jy sien waar dinge MOET verander. Mag jy sien waar jy MOET wegbly. Mag jy die bevryding van ‘n nuwe lewe saam met God beleef.