Jesus se versoeking in die woestyn

MATTEUS 4:1-11
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Die Matteus evangelie vertel dat Jesus versoek is tussen Sy doop en die begin van Sy bediening. Hierdie verhaal is veel besproke in die teologie en die Bybelse wetenskappe. Daar is heelwat vrae oor die verhaal. Kan Jesus as God regtig versoek word? God kan mos nie sondig nie? Is dit regtig moontlik om 40 dae en nagte in die woestyn sonder kos te oorleef? Daar is ook baie navorsing oor dié verhaal en die Ou Testament - hoe dit verband trek met die volk se geskiedenis.

Ons kan maklik die hoofklem van die verhaal mis. Jy kan vashaak by die verstaansprobleme of die fokus op die duiwel plaas. Dít terwyl die duiwel eintlik maar net 'n ondergeskikte rol speel om die werklike boodskap te beklemtoon: Jesus is die ware, gehoorsame Seun van God. Hy het gekom om ons lewens te red en die bose te oorwin.

Die eerste versoeking kontrasteer Jesus as die gehoorsame Seun met Israel as die ongehoorsame "seun". Deur Deut. 8:3 aan te haal onthou ons hoe Israel dit nie kon regkry om op die Here in die woestyn te vertrou nie. Met die tweede versoeking word Jesus versoek om met Sy mag sy Messiasskap te bewys maar Hy val nie daarvoor nie. Hy vertrou die Here daarvoor. Laastens staan Hy die versoeking van mag oor al die koninkryke teë. Jesus weet dit sal later kom - die fokus is nou op Sy roeping op aarde.

Jesus se woestyntyd help ons om te verstaan hoe ons versoekings kan weerstaan. Hy fokus op Sy roeping en vertrou die Here volkome. Hy weet dat mag, ongehoorsaamheid en twyfel in God Hom nie gaan help om Sy taak op aarde te voltooi nie. Om in te gee vir die "boosheid" van hierdie wêreld sal Hom net verder van die Here se wil af neem.

Dit is só maklik vir ons om te dink ons vertroue kan lê in mag, posisie of my eie planne. Ons kan so maklik dink dat daar waarde lê daarin om die "wêreldse" pad te kies. Aanvanklik gee dit dalk verligting of bevrediging - maar dit is nie op die langtermyn die waarheid nie. Dit lei uiteindelik tot baie pyn, verlies en ontnugtering.

Woestyntye kan ons help om weer op die Here te fokus.

Mag jy in hierdie tyd die versoekings in jou lewe weerstaan en aan die Here vashou. Sy wil is die beste. Gehoorsaamheid aan Sy planne vir jou lewe sal tot geluk en ware lewe lei.