Om plek te hou vir iemand

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Dit was destydse gebruik van 'n Oosterse bruidegom om 'n huis te bou vir sy bruid, direk nadat hy (saam met sy familie) haar pa se toestemming gevra het om met haar te trou. Sodra die pa 'ja' geantwoord het, sou die bruidegom met die projek begin. Die woorde van Jesus word dus goed verstaan in Joh 14:2-3 oor die gebruike wat vir hulle bekend was aan hulle tyd.
 
"In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is."  Joh 14:2-3
 
Hierdie woorde staan bekend as Jesus se afskeidsrede. Dit is ’n lang gesprek tussen Jesus en sy dissipels waarin hy van hulle afskeid neem en hulle voorberei vir ’n tyd wanneer hy van hulle sal moet weggaan. Hierdie afskeidsrede strek van hfst. 13-17 en ons moet ons verbeel dat Jesus hierdie gesprek om die tafel met sy dissipels voer terwyl hulle ’n laaste maaltyd met mekaar deel.
 
Die maaltyd begin met Jesus wat sy dissipels se voete was en dan vir hulle ’n nuwe opdrag gee: “Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”
 
En dan gebruik Jesus hierdie belangrike beeld van sy Vader se huis om aan te dui dat hy self vir ons daardie beweegruimte skep: “As ek weggaan is dit om vir julle ’n plek voor te berei. In die huis van my Vader is daar baie woonplekke, is daar meerdere plekke om te staan, is daar beweegruimte vir die Gees.” As hy weggaan is dit nie om ons te verlaat nie, maar om vir ons ruimte te skep, ’n plek voor te berei, sodat ons ook op die plek van vertroue en vrede kan staan, eerder as op die plek van ontsteltenis en vrees.
 
Die week het die konsep van "Holding Space" diep in my hart kom lê. Dis een van ons waardevolste verhoudings vaardighede. Dit beteken om vir iemand plek te hou, sonder oordeel. Om jou ore en hart vir iemand te leen, sonder om iets terug te verwag. Dis om waarlik empatie te beoefen. Kenners verduidelik dis om iemand op die plek waar hulle is in hulle harte toe te laat in jou lewe sonder oordeel. So "holding space" beteken eintlik om jou eie behoeftes en opinies eenkant neer te sit en plek te maak vir die persoon wat voor jou staan.
 
Ek wonder of dit nie is wat Jesus in hierdie afskeidsmaaltyd aan sy dissipels wou oordra nie? Want dis presies hoe Hy sy dissipels hanteer het. Dis die liefde wat jy aan ander wys as jy so lief is vir hulle, soos wat jy vir jouself is. Dat Hy hulle wou bewus maak van die oneindige ruimte in hulle harte waarin daar ’n veelvoud van plekke is om te staan.
 
En moet dan nie verras wees as my Vader sy woonplek onder julle kom maak nie. So sal julle, soos ek, die plek word waar hemel en aarde mekaar omhels. Julle word nou die plek waar God gebeur.
 
Dit is nou ons beurt om die plek te word waar God gebeur; om lewe te gee aan die mense wat in ons lewens is.
 
Mag jy dit leef , daar waar die Here jou 'n plek gee.