Waar jy ook al gaan

Psalm 121
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Ek begin meeste van my preke met die woorde uit Psalm 121.
 
Ek slaan my oë op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom? (vers 1)
 
Waarop die Psalmdigter self antwoord – My hulp kom van die here wat hemel en aarde gemaak het.
 
Ek gebruik hierdie woorde so gereeld, want dit spreek tot my op ‘n diep vlak. Dit spreek van ‘n proses waardeur ‘n gelowige gaan.
 
Binne die konteks van ‘n pelgrimsreis was ‘n berg nie ‘n positiewe ding gewees nie. Pelgrims wat gereis het na stede waar hulle saam kon deelneem aan die feeste, het dikwels baie gevare in die oë moes kyk. Berge was een van daardie gevaarpunte. Want dit is by berge wat rowers weggekruip het. Hulle is gereeld oorval sodra hulle oor hierdie berg moes klim. Berge was onheilspellend en onvoorspelbaar. Wanneer die digter daarom die berg voor hom sien is daar groot onsekerheid en twyfel in sy hart. In essensie vra hy - gaan ons hier deurkom?
 
Maar dan kom die antwoord deur. Die God waarin hy glo is groter as hierdie berge. Die God waarin hy glo het hierdie berg gemaak en nog meer. Die God waarin hy glo is skepper van hemel en aarde. Dit is met hierdie woorde dat hy die pad voorsit.
 
Daarna gaan hy verder. Nie net is God groter as hierdie berg nie. God sluimer ook nie in nie. Vir ons is dit dalk ‘n vreemde konsep want ons dink nooit aan God as ‘n God wat slaap nie. Maar vir die digter was daar talle gode binne ander gelowe wat slegs op sekere tye teenwoordig was. Jy kon bv Apollo net in die dag aanbid. Maar hierdie God sluimer nie in nie. Dit sê nie regtig iets oor God se slaapgewoontes nie. Dit praat eerder oor God se teenwoordigheid. God is teenwoordig in hierdie skepping. ALTYD. Dieselfde skepping wat God self gemaak het.
 
Daarom sal God hulle ook beskerm. Die laaste punt wat die digter probeer maak. Die Here sal jou lewe beskerm (vers 7). In ‘n tyd waar ons intens bewus is van moeilike tye en waar God se beskerming dalk in twyfel getrek word, moet ons onthou hoe God ons lewens beskerm. God beskerm ons nie net deur ons geld in ons bankrekenings te gee of ons gesond te hou nie. God beskerm ons lewens deur Jesus Christus wat opgestaan het uit die dood. Daardeur verseker God ons dat geen omstandighede ons uit sy hand kan ruk nie.
 
Dit is ware beskerming. Dis die beskerming waarvan die pelgrim praat in hierdie psalm. Daarom ook die laaste woorde.
 
Hy beskerm jou waar jy ook al gaan, nou en vir altyd (Vers 8)