Jesus sien vir Saggeus raak

Lukas 19:1-10
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Saggeus was ryk, die hooftollenaar en ‘n kort man.

Hierdie beskrywing help ons om te besef dat Saggeus nie ‘n gewilde man was nie. Tollenaars was die mense wat belasting ingevorder het vir die Romeinse regering. Alles wat hulle meer kon insamel as wat hulle moes, kon hulle hou. Saggeus was een van die hooftollenaars en het waarskynlik die mense uitgebuit en homself verryk. Om ryk te wees in ‘n gemeenskap waar almal meestel arm was, het jou ook ‘n randfiguur gemaak.

In die teks probeer Saggeus vir Jesus sien, maar hy kan nie omdat hy te kort is en omdat daar soveel mense om Jesus saamdrom. Dit is eintlik so ironies dat hy probeer om Jesus te sien en dan net daarna lees ons dat Jesus onder die boom stop en hom raaksien.
 
Jesus kies hom! Uit almal uit sien Jesus vir Saggeus raak!

Wat dink Jesus oor jou?

A Rabbi once prayed and asked: “Lord make me like Abraham.” He then heard a voice saying: “I already have an Abraham. I want you!”
 
Jesus sê vir Saggeus: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag by jou huis tuis gaan.” Jesus stop en sien Saggeus raak. Hy kyk met liefde en ontferming na hom.

Die skare (mense in die dorp) hou nie van wat gebeur nie. Hulle hou nie daarvan dat Jesus homself ontferm oor ‘n skelm nie. 'n Mens sou kon sê dat die skare kyk en net die verskille raaksien. Hulle kyk van ver af en met oë van vyandskap.

Die feit dat Jesus vir Saggeus raaksien en by sy huis gaan kuier, wys vir ons dat Jesus homself oor Saggeus ontferm. Jy het nie in daardie tyd om ‘n tafel saam met mense gesit wat nie jou mense was nie.
 
Wat sou jy doen as Jesus vandag by jou aankom en vir jou sê: "Ek wil vandag in jou huis tuisgaan".

Nie in ‘n ander plek nie.
Nie in ‘n ander persoon se huis nie.
Jesus wil in jou huis tuisgaan.

Hierdie gebaar van Jesus verander Saggeus se lewe. Daar kom herstel tussen hom en God. Daar kom herstel in sy eie mens-wees. Hy kom tot insig oor wat hy verkeerd gedoen het. Hierdie herstel vloei oor na die mense om hom.

Die feit dat Saggeus sê dat hy die geld wat hy gevat het, gaan terug gee, skep vir ons in die storie hoop dat Saggeus se verhouding met die mense rondom hom sal herstel.

Jesus het hom raakgesien en in sy huis tuis gegaan. Dit het op 'n diep manier Saggeus se lewe verander.

Wanneer jy ’n ontmoeting met Jesus het – verander jy.
Dit kan nie anders nie.