Die liefde

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Ons dink liefde is maklik. Dit vra dalk meer as wat jy dink.

Voel jy ook moedeloos? 'n Mens sien die ontploffings in Beirut, die polarisasie in Amerika en die hartseer koerantopskrifte oor moorde in ons land. Sosiale media gons en mense kies kant. Uitsprake is ongenuanseerd en sommer blatant. Skielik is die wêreld op sy kop, alle mense is sis of so, alles is sonder hoop en almal is rassiste. Almal in die regering is verkeerd en al die stories oor COVID is fopnuus. Die hele ekonomie is in duie en niemand staan mee op vir iets vir die regte redes nie. "Hulle" almal het slegte bedoelings: van BLM, die liberale kerk, die ANC, die politikuste en die stadsraad (wat nie eers die elektrisiteitsrekening kan regstel of die sabotasie wil stop nie).

ALMAL!!! ALLES!!!
(Voel vry om jou eie woorde of sinne by te voeg...)

Voel jy so? Ek voel soms so.

Dit is hoekom volgers van Jesus nou versigtig (en akkuraat) in Sy voetspore van liefde moet trap. Dit is juis wanneer 'n mens moedeloos is en die wêreld hopeloos lyk dat jou ware geloofskleure na vore kom.

Liefde is nie 'n emosie nie. Liefde 'n keuse.

Volgers van Jesus moet in moeilike tye met liefde reageer. Ons moet slim wees, genuanseerd praat en versigtig met ons woorde omgaan. Ons moenie veralgemeen en dink "alles en almal" is "só en só" nie. Christene speel nie die wêreld se spel van blamering, veralgemenings en haatspraak nie. Christene bring hoop, lewer sinvolle (en kritiese) bydraes en kry dit reg om altyd in liefde te reageer. Dit beteken ons help 'n debat met sinvolle feite, nugter denke en 'n sensitiwiteit vir ons naaste. Ons luister meer as wat ons aanval of verdedig. Ons staan op vir dié sonder 'n stem en ons sorg vir dié wat sonder hoop gaan slaap.

Ware liefde is nie maklik nie. Dit druis dikwels teen jou persoonlike agenda in. Dit streel nie jou eie ego nie en dit vra soms om eerder terug te staan ter wille van iemand anders.

Lees dit weer:

4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

(1 Kor. 13)

Om in liefde te reageer is nie maklik nie. Om te kies vir gedrag wat in liefde gewortel is, vra van ons almal deursettingsvermoë.

In hierdie tye wat almal om jou onder druk is, maklik geïrriteerd raak en vinnig terug "hap" in 'n gesprek - moet ons nie met aggressie reageer nie. Ons moenie harder op mekaar wees nie maar sagter. Ons moet meer geduld probeer hê en minder liggeraak wees. Juis in hierdie tyd moet jy weet dit is vir die ander persoon net so moeilik. Sy is net so moeg. Hy wil ook graag 'n breek neem.

Reageer met liefde. Jy mag dalk verras word met wat begin gebeur.

Mag die Here deur Sy Gees ons almal help. Mag ons Sy liefde ken, liefde wat alle verstand te bowe gaan. En mag ons heeltemaal vervul wees daarmee.