Om te onthou

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Hoe goed onthou jy? Die goeie en die slegte goed wat al in jou lewe gebeur het. In Afrikaans het ons mos die vergelyking as vorm van beeldspraak: "Hy/sy het 'n geheue soos 'n olifant."
 
Dit laat my dink aan die mooi verhaal wat my die afgelope week weer diep geraak het. Die verhaal van die olifante op die Thula Thula Reservaat in Kwa-Zulu Natal. Die eienaar van die reservaat Lawrence Anthony het al reg oor die wêreld diere uit haaglike omstandighede gaan red. So het hy ook kans gesien vir die trop olifante wat oral uitgebreek en gaos veroorsaak het. Maande lank het hulle groot skade aangebring op sy reservaat. Tot hy 'n spesiale band opgebou het met die Matriarg van die trop, Nana. Sy het hom vertrou en die mooiste verhouding onstaan tussen hulle. In 2012 is Lawrence oorlede aan 'n hartaanval en die trop olifante was 12 ure weg van die huis af waar hy gewoon het. Die olifante het deur die nag vir 12 ure gestap tot by sy huis en vir 'n twee dae lank net om sy huis gestaan. Wat my die meeste tref in die verhaal is dat die trop dit al van 2012 af steeds elke jaar doen rondom die dag wat Lawrence oorlede is. Hulle kom terug en onthou...

Ek dink ons kan leer by hulle. By die manier waarop die olifante elke jaar teruggaan en weer rou oor die verhouding. Deut. 8:2 leer ons: “Jy moet onthou...” Reg deur die Ou Testament sien ons dat die Israeliete elke keer as iets groot gebeur het 'n altaar/monument gebou het. Hoekom? Want elke keer as iemand daar verbykom, moes hulle kon terugdink aan wat God daar vir hulle gedoen het. Sulke onthou geleenthede help ons nogal om perspektief oor ons lewens te kry.

Die boek Deuteronomium begin waar Moses die volk herinner aan hulle geskiedenis. – die goeie en die slegte tye. Hy beklemtoon dit in hoofstuk 6 dat hulle die verhaal ook aan hulle kinders moet vertel sodat dit nie vergete raak nie. In hoofstuk 16 lees ons van sekere feesdae en feeste wat ingestel is om van die belangrikste gebeure te herdenk. Hierdie feesdae was bedoel as ‘n hulpmiddel teen vergeetagtigheid. Hulle kon nie bekostig om te vergeet nie! Die opskrif bo-aan hoofstuk 8 sê: Moenie die Here vergeet nie. (Vers 2) “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het...” (Vers 12) “Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet nie...” (Vers 18) “Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie...”.

Ek dink ons het vandag ook hulpmiddels nodig om te kan onthou. Daarom het Jesus die Nagmaal ingestel : 'doen dit tot my gedagtenis'. Daarom lees ons die Bybel en sing Lofliedere. Vir ons gemeente spesiaal ook die week, daarom vier ons Fees! Want op die stadium in ons wêreld kan ons nie bekostig om te vergeet nie.

Hierdie onthou gee ons vertroue vir die pad vorentoe.

Onthou om te onthou.