Die Here het groot dinge aan ons gedoen

Psalm 126
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Nie alle mense stel belang in die geskiedenis nie. Daar is mense wat opgewonde raak oor ou geboue en ou meubels en boeke en verhale uit die verlede. Maar dan is daar ook mense wat eenvoudig nie belangstel nie en vir wie die nuutste elektroniese uitvindsels baie meer opwindend is.
 
Ek was van kleinsaf baie geïnteresseerd in geskiedenis. Dit het alles begin toe ons as gesin by die see vakansie gehou het. Ons sou as ‘n jong gesinnetjie almal saam in die kar sit en terwyl ons ry, sou my pa vir ons stories van die Boere-oorlog en die Groot Trek vertel. En kon hy dit goed doen! Hy het eenvoudig 'n gawe om datums en veldslae te onthou soos niemand anders wat ek ken nie. Hy het as kind self boeke oor die oorlog gelees en so het hy my dan altyd - in storievorm - ingelig oor Christiaan de Wet en Danie Theron. Tot vandag toe wag ek nog vir 'n film oor dié twee - ek dink dit sal James Bond laat skaam kry.
 
Die rede hoekom ek dink geskiedenis is belangrik, is dieselfde rede hoekom dit ook in die Bybel belangrik is. Dit gaan nie daaroor om mense teenoor mekaar te plaas of om datums en plekke te memoriseer nie. Dit gaan daaroor dat geskiedenis ons vandag help om te verstaan en ons pad in die onbekende te vind.
 
Dit is wat Psalm 126 vir my so mooi doen. Psalm 126 dateer waarskynlik uit die tyd nadat Juda uit hul ballingskap in Babilonië teruggekeer het. As ons dink die Groot Trek of die Engelse oorlog was waterskeidingsgebeure in ons geskiedenis, dan was die Babiloniese ballingskap ’n honderdmaal meer so vir die mense van Juda. In hierdie traumatiese gebeure het die mense van Juda beleef hoe hulle alles wat hulle gehad het, verloor het. En hoe hulle – geheel en al onvoorstelbaar – 50 jaar later weer na hulle eie land kon terugkeer!
 
Op hierdie manier kan ons ook sien hoe die psalmdigter die situasie verwerk. Wat doen hy om die ongelooflike swaarkry te bestry? Hy wend hom na die verlede. Nie om daarin vas te val nie maar om weer raak te sien dat God hom ook daar deur die moeilike tye gehelp het. God se bystand was op daardie stadium so kragtig dat ander volke saam in sy blydskap gedeel het deur te sê: God het groot dinge vir hulle gedoen.
 
Die bemoediging is daarom eenvoudig. As ons God se karakter en deernis op daardie oomblik in die verlede kon sien, kan ons vertrou dat dit vandag ook so sal wees. Al moet ons nou die saad met trane in die oë saai, sal ons die oes met gejuig kan afhaal.
 
Want die Here het ook groot dinge aan ons gedoen.